Man bly aan vrou se sy ongeag kanker-isolasie

John Newman (45) gesels met sy vrou, Marci (49) Foto: Mackenna Newman via Twitter

ʼn Man van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië steel die harte van duisende internetgebruikers wêreldwyd nadat hy geweier het om sy vrou, ʼn kankerlyer, se sy te verlaat gedurende ʼn  isolasietydperk ná ʼn ernstige operasie.

John Newman (45) se vrou, Marci (49), is in Oktober verlede jaar met skildklierkanker gediagnoseer.

Die Newmans se dogter, Mackenna (17), het aan CBS vertel haar ma moes ʼn paar weke gelede ʼn intensiewe operasie ondergaan om die laaste kankerselle te verwyder. Weens dié operasie moes sy bykomende radioaktiewe jodiumbehandeling kry wat ten doel het om die laaste kankerselle te vernietig.

“Sy moes vir vyf dae in isolasie wees om te verhoed dat ander mense blootgestel word aan die bestraling, en het daarom heeltyd in haar kamer met ʼn toe deur gebly,” vertel Mackenna.

John het egter geweier om haar vir ʼn oomblik alleen te los.

“Op die eerste dag het hy in die tuin gesit en met haar gepraat deur die venster. Die laaste twee dae het hy ʼn tafeltjie en stoel tot voor die deur getrek en met haar gesels.”

Volgens Mackenna het hulle land en sand gesels, en het hy selfs vir Marci ʼn boek voorgelees.

Mackenna se Twitter-inskrywing met ʼn foto van haar pa daarby is meer as 10 000 keer gedeel.

“Dis hoe ons gesin is – ons sorg vir mekaar. Sy het nog altyd geweet hy sal so iets vir haar doen.”

Marci is volgens dokters tans in remissie.

Bron: CBS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wow ·

Mag sy in remissie bly en hierdie pragtige gesin nog baie wonderlike jare deel van geluk en goeie gesondheid.

Lollie ·

DIT is ware liefde en hy het sy belofte gestand gedoen om haar by te staan deur dik en dun, siekte en gesondheid …….. Baie kan by hom leer. Pragtige verhaal!!!!

Lorainne ·

‘n Man duisend! My “man” het my verlaat toe ek siek geword het, my fansieël afgesny en gelos vir die dood. Maar met God aan my sy het ek deurgedruk, oorleef en ‘n nuwe lewe begin. Ek lyk en voel tien jaar jonger en wens hy het vroeër laat spaander. Hy het intussen alles verloor en wou sowaar terugkom na my.

Poppie ·

Elke hond kry sy dag. Jou man het toe nie n dag of langnaweek gekry nie maar sommer n hele vakansie. Ek het nie tyd vir sulke mense nie. So bly die blinde sambok het hom goed bygekom….

Johann ·

Ag ek is so bly om te sien daar is nog ware liefde in die huwelik, baie mense dink as ou kanker het, het jy melaatsheid

ME ·

Wonderlik om te lees van so ‘n getroue eggenoot. Lorainne, jy is beter af sonder so ‘n man. Hoe raak ‘n getroude vrou ontslae van 80 kg lastige vet …. jy skei hom!

Maria ·

Ai genade, dis my vriendin se voorland. Dankie Maroela Media vir hierdie artikel

Ek weet ·

Ek weet. Ek is deur dit tot sy langs my oorlede is. Niemand kan saam praat as jy nie deur dit gegaan het.

Anita Berrange ·

Ek het ook skildklier kanker gehaf en moes ook die jodium bestasling ontvang. Ek was vir 3 dae in afsondering in die Meulmed hospitaal. Die 2 de dag het ek so gehuil dat my man by my kamer ingekom het en by my gebly het ten spyte van die nadele wat dit vir hom ingehou het. Ek was 29 en hy 31. My kanker hrt weer terug gekom en ek is weer behandel op 32 het ek radiobestraling by by Wilgers Hospitaal ontvang. Ek het nie gedink ek gaan die behandeling oorleef nie maar met Lukas wat elke aand van Rustenburg na werk vir my kom kuier het, my twee kinders Lu-nita 7 en Marcus5 en twee wonderlike ouers wat my en Lukas bygestaan het met die kinders ( Peut en Meisie Eckard) en almal se gebede ( die belangrikste) is ek nou al 13 jaar in remiesie.
Ek loof en prys die Here vir al sy genade. ?

Amanda ·

Dierbare man hy kom sy beloftes na deur siekte sal jy by haar staan. Ek dra jou op in my gebede dat God jou volkome sal genees sodat jy jou liefde nog baie jare aan hom terug kan bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.