Man daag ná ‘sy begrafnis’ by vriend se huis op

Frankie Kerrigan is vyf jaar gelede verkeerdelik as dood verklaar. (Foto: Strass Western / Unsplash)

Owerhede in Kalifornië in die VSA moet 1,5 miljoen dollar (sowat R22,8 miljoen) opdok nadat hulle ʼn skisofreniese man vyf jaar gelede verkeerdelik as dood verklaar het.

CBS News berig dat Frankie Kerrigan in 2017 twee weke ná sy eie begrafnis by ʼn vriend se huis opgedaag het. Dié vriend was boonop een van die draers by dié begrafnis.

Tot die familie se ontsteltenis het hulle in werklikheid  ʼn volslae vreemdeling in hul familiebegraafplaas begrawe. Dié man is later as die 54-jarige Dean Dickens geïdentifiseer.

ʼn Jurie het vandeesweek bevind dat die Orange County-lykshuis nalatig was en opsetlike wanvoorstelling gepleeg het toe hulle Kerrigan destyds dood verklaar het.

Die lykshuis het destyds aangevoer dat Kerrigan, toe 57, aan skisofrenie gely en gereeld op straat gewoon het. Hulle het verder gesê dat hy in Mei daardie jaar buite ʼn winkel in Fountain Valley dood is.

ʼn Polisiebeampte het na bewering aan die lykshuis gesê hy glo die liggaam is dié van Kerrigan, aangesien hy voorheen al met hom te doen gehad het. Die adjunk-lykskouer het toe ʼn 11 jaar oue bestuurderslisensiefoto gebruik om Kerrigan formeel mee te identifiseer.

ʼn Amptenaar van die lykshuis het later in die hof getuig dat vingerafdrukke van die oorledene na die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) gestuur is wat hom as Dickens uitgeken het. Die identifikasiekode van die vingerafdrukke is egter nie nagegaan nie – glo weens ʼn gebrek aan opleiding op ʼn nuwe digitale stelsel.

‘Ek het sy hare gestreel’

Die liggaam is destyds aan Kerrigan se familie oorhandig, waarna hulle hom tydens ʼn Rooms-Katolieke-seremonie begrawe het. Die liggaam kon boonop in ʼn oop kis besigtig word. Dit blyk egter dat niemand in dié stadium onraad vermoed het nie.

“Ek het sy hare gestreel en totsiens gesê,” het Kerrigan se pa, Francis, tydens die verhoor in Santa Ana gesê.

Toe Francis uitvind sy seun leef was hy verheug. Hy het egter kort daarna besef dat hulle geen idee het wie hulle dan begrawe het nie.

Die jurie het beslis dat Francis vergoeding van 1,1 miljoen dollar (sowat R16,8 miljoen) moet ontvang en Kerrigan se dogter, Carole Meikle, 400 000 dollar (sowat as R6 miljoen).

“Hierdie [saak] moet as ʼn wekroep vir die distrik en alle ander distrikte dien. Dit kan met enigeen gebeur.”  Norm Watkins, verteenwoordiger van die Orange County, het gesê daar was geen bedoeling om die familie te mislei nie en dat die distrik nog sal besluit of hy teen die hof se uitspraak gaan appelleer.

Dickens, die werklike oorledene, is ’n Kansas-boorling wat aan ʼn hartkwaal dood is. Sy liggaam is later uit die Kerringans se familiegraf opgegrawe en aan sy naasbestaandes terugbesorg.

Volgens Kerrigan se familie woon hy tans in ʼn hotel en is hy nie van die hofgeding en uitspraak bewus nie. Sy geliefdes is glo bang dat hy die hase pad sal kies indien hy daarvan uitvind.

James DeSimone, ’n prokureur wat Kerrigan en sy dogter verteenwoordig het, sê Kerrigan neem nie tans medikasie nie, maar is “relatief stabiel met ’n dak oor sy kop”.

Gesin deur ‘erge trauma’

DeSimone het aan CBS Los Angeles gesê die familie is dankbaar oor die uitspraak.

“Hulle [die familie] hoop die uitspraak stuur ’n boodskap aan die Orange County en ander regeringsinstansies dat hulle versigtig en sorgvuldig te werk moet gaan met enigiemand wat ʼn geestelik siek vriend of familielid op straat het. Jy moet jou werk met omsigtigheid doen, veral wanneer jy met familielede skakel en hulle van iemand se dood inlig.

“Hulle het hierdie gesin deur ongelooflike trauma gesit. Hulle moes die gesin al vyf jaar gelede vergoed het.”

  • Bron: CBS News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariaan ·

Oop kis? Pa streel tot sy hare? En sien nie dis nie jou seun nie?? Hoe werk dit? Dit klink net nie reg nie…

Misky ·

Ek stem Mariaan en terwyl ek die berig lees, dink ek dit was gruwelike fout en misverstand. Toe ek lees van die oop kis en hulle hom self gesien, toe verstaan ek ook nou nie meer so mooi nie. Nie eens sy dogter iets agtergekom nie.

Nadia ·

Vergoed vir wat, omdat jy nie eers weet hoe jou kind lyk nie en n vreemdeling se hare streel ???? ? Klink vir my net na n lekker “easy money” storie die.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.