Man dood ná vriendin hom aan die brand steek

Stanley Obi en sy vervreemde lewensmaat, Sarah Mudge. (Foto: Sarah Mudge/Facebook)

ʼn Jong pa van Brisbane, Australië, is dood ná hy Donderdagaand in sy huis in die stad deur sy vervreemde lewensmaat aan die brand gesteek is.

Volgens die polisie se inligting het Stanley Obi (33) se vervreemde lewensmaat, Sarah Mudge (31), by sy huis in New Beith ingebreek. Sy het petrol oor hom en sy huidige lewensmaat (30) – wie se naam nie aan die media bekend is nie – gegooi en dit aan die brand gesteek. Obi en sy lewensmaat se drie jong kinders was ook in die huis.

Die huis het vinnig vlamgevat.

Die paartjie het Oktober in dié nuutgeboude huis ingetrek en het skaars ses maande daar gewoon.

Daily Mail berig Obi se lewensmaat en drie kinders, onderskeidelik vyf, drie en twee jaar oud, het met geringe brandwonde uit die huis ontsnap. Hulle is tans in die Royal Brisbane-hospitaal.

Obi se buurman – bekend as Al – het die vlamme gesien en gaan ondersoek instel en het ʼn erg beseerde Obi uit die brandende huis gebring.

Al het by Obi gebly, wat brandwonde aan 90% van sy liggaam opgedoen het, tot ʼn ambulans 35 minute later daar aangekom het. Obi het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Al sê hy wou teruggaan om Mudge te red, maar weens die vlamme kon hy nie. Mudge het in die brand omgekom.

Hy het aan Daily Mail gesê Obi is ʼn verpleër en het besef sy brandwonde is lewensgevaarlik. “Hy het vir my gesê: ‘Ek gaan dit nie maak nie, ek gaan dood, ek gaan dood, jy moet my help. Help my’,” vertel hy.

Herald Sun berig Obi en Mudge was vervreem van mekaar en het voorheen aansoek gedoen om bevele teen mekaar te bekom ná voorvalle van huishoudelike geweld.

Die aanval volg net weke nadat Mudge ʼn kriptiese boodskap op Facebook geplaas het waarin sy sê: “Sy is nie giftig nie, broer. Jy het haar so gemaak. Nou dink jy sy is mal. Jou besluit reflekteer nou op haar. Kyk na jouself.”

Mudge, wat haar eie fotografie-onderneming bestuur het, het verskeie foto’s van Obi en sy kinders op haar sosialemediabladsye geplaas.

Die polisie het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie gesê hulle glo nie iemand anders was betrokke nie.

ʼn Woordvoerder van Queensland se brand- en nooddiens het aan Daily Mail gesê met brandweermanne se aankoms by die huis was die gebou reeds deur die vlamme verteer.

Brandbestryders het meer as twee uur gespook om die vlamme te blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

AmY ·

Genade!
Baie sterkte aan die familie en vriende. Veral aan die kinders.

melaney ·

‘n Vlammedood moet erg wees. Bly die kinders en hul mamma kon uitkom.

Cherokee ·

As ‘n vroumens wraak neem, beter nie aan die ontvangskant te wees.

Swerwer ·

Ai, wat nou van die arme kinders. Innige simpatie en meegevoel met die familie en naasbestaandes. Kan paartjies wat opbreek, maar nie gaan vir sielkundige/trauma behandeling dat hierdie sinnelose vernietiging van ander se lewens tot ‘n einde kom nie.

Yolandie ·

Lees ek nou reg is die man en sy “nuwe” maat aan die brand gesteek en albei oorlede want Mudge word na verwys as die persoon wat hulle aan die brand gesteek het in hulle bed terwyl hulle slaap. Daar is geen aanduiding in die artikel oor of die man se nuwe maat die brand oorleef het nie. Enigeiemand???

Talitha ·

Daar staan wel dat sy lewensmaat en 3 kinders met geringe beserings kon ontsnap het. Die man en sy vorige maat is albei oorlede.

Sylvia ·

“Man dood na vriendin hom aan die brand steek” … verstaan of lees ek verkeerd “vriendin” het omgekom in die brand … my punt is dus: opskrif is eensydig

Etienne ·

Verskoon tog… ek het hierdie opskrif heeltemal verkeerd verstaan….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.