Man en sy ouers steek glo swanger vrou aan die brand

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in Nepal is op soek na ʼn man en sy ouers nadat hulle glo sy swanger vrou aan die brand gesteek het tydens ʼn eis om haar bruidskat.

Farid Sheikh en sy ouers word daarvan beskuldig dat hulle paraffien oor die 25-jarige vrou uitgegooi het voordat hulle haar aan die brand gesteek het, het Prem Basnyat, woordvoerder van die polisie, Dinsdag aan AFP gesê. Sy was sewe maande swanger.

Sheikh en sy ouers het glo ʼn motorfiets en waterbuffel van die vrou se familie geëis.

“Die voorval het ongeveer ʼn maand gelede plaasgevind. Hulle het haar na ʼn hospitaal geneem en gesê dit was ʼn ongeluk,” het Basnyat gesê.

Nadat haar gesondheid agteruit gegaan en sy ʼn miskraam gehad het, het haar pa egter die polisie versoek om ʼn kriminele saak teen die man se gesin oop te maak. “Ons het haar verklaring Maandag afgeneem, maar haar man en skoonfamilie het verdwyn. Ons is op soek na hulle,” het Basnyat bygevoeg.

ʼn Plaaslike menseregtegroep het gesê die vrou is Maandag na ʼn hospitaal in Kathmandu geneem en sy is steeds in ʼn kritieke toestand.

Die vrou het glo gesê Sheikh het haar gereeld aangerand en gesê sy bring nie haar bruidskat nie. Hy het glo ook haar geslagsdele met sigarette gebrand.

Dit is tradisie in Nepal, Indië, dat die bruid geskenke en betalings aan die man en sy familie gee sodat die huwelik kan voortgaan. Die tradisie is amptelik verbied, maar vind nog gereeld plaas. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.