Man hof toe ná hy voet swik oor beer

‘n Grizzlybeer (Foto: Bobisbob via Wikimedia Commons)

ʼn Kaliforniër is boos omdat hy sy enkel verswik het nadat hy deur ʼn beer in ʼn vullisdrom verras is. John Donaldson dagvaar nou die eienaars van die woonstelblok waar hy ten tye van die voorval in Nevada, VSA, tuisgegaan het vir skadevergoeding van derduisende rande.

Donaldson het in September 2019 in ʼn woonstel in Incline Village in Lake Tahoe vakansie gehou. Hy wou die oggend van 5 September iets in die woonstelblok se gemeenskaplike vullisdrom weggooi, toe hy die beer daarbinne aantref. Die beer wou hom glo bespring, berig The Guardian.

In sy haas om weg te kom, het hy oor iets geval, sy enkel geswik en op sy rug beland, sê hy nou in hofstukke.

Volgens die nuuswebwerf USA Today het die beer vir etlike sekondes nog daar rondgedwaal, voordat hy in die bosse agter die woonstelblok verdwyn het.

Donaldson voer aan hy moes ʼn operasie vir ʼn skeur aan sy haksening ondergaan en het glo ook sy rug in die val beseer.

Hy dagvaar die eienaars van die woonstelblok, asook Nevada se departement van vulllisbestuur vir $15 000 (omtrent R227 000), aangesien die woonstelblok se vullisgebied nie na behore in stand gehou is nie.

“Die regterkantste deur van die vullisdrom was heeltemal toegevries en die linkerkantste deur het ook nie behoorlik toegemaak nie, sodat ʼn mens dit baie hard moes toeklap,” lui die hofstukke.

Hy voer verder aan dat die eienaars van die woonstelblok geweet het dat die vullisdrom se deure nie behoorlik werk nie. “Aangesien bere boonop ʼn probleem in die gebied is, behoort die eienaars seker te gemaak het dat diere nie die vullisdrom kan oopmaak nie.”

In Junie vanjaar het ʼn ander toeris ʼn beer geskiet, nadat die dier glo by die huis waar hy tuisgegaan het, ingebreek en hom aangeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Friedrich ·

Tipies Amerika. Hy skrik, hol weg, swik sy voet en nou wil hy dagvaar. Dan moet ek vir Tshwane dagvaar omdat ek ‘n emmer water op my voet laat val het oor ‘n waterpyp wat op in die straat gebars het en ek water vir ons een toilet uit die swembad moes skep??

Grassie ·

Ek wonder of hy ‘n nuwe broek en onderbroek ook by die eis ingesluit het.

JohanR ·

Verbaas die beerr het nie ‘n hofsaak teen die man in gedien, omdat hy hom gesteur het terwyl hy eet?

groenboer ·

Dalk moet Joe Biden die Taliban dagvaar omdat hy in sy haas om uit Afghanistan te ontvlug sy ego verswik het…

Jacobus ·

As die beertjie honger genoeg was, was daar nog eisers? Ek wonder maar net.

Dries ·

Hierdie sot moet eerder op sy knieë gaan en dankbaar wees hy lewe nog.Ek seker iemand in US gaan homself nog dagvaar as hy sy broek vuilgemaak het

Nie Verbaas ·

Amerikaners hou daarvan om mekaar oor nietighede te dagvaar.

Tiptol ·

Ek hoor al die kommentare, maar daar moet darem voorsorg getref word by ‘n publieke plek as daar ‘n probleem met ‘n gevaarlike dier is. Soos in die Wildtuin waar die asblikke bobbejaan bestand is en die groot kampe elektriese drade het waaroor jy ry by die ingangshekke.

Gerhard ·

Ek dink hulle moet vir die veiligheid van bere n pasop vir die amerikaners bordjie opsit. Ek kan seker ook maar ons stadsraad dagvaar omdat hadeda’s my baba wakker skree as sy moet slaap? EK kan maar ent my kop skud vir die tipe stories.

Martie ·

jys ;n ou pissie. Hier in Suid-Afrika sal ons fotoś neem saam met die beer. Heel moontlik ook probeer mak maak deur kos te gee. Of altans dis wat ek sal doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.