Man in moeilikheid oor 183 diere in vrieskas

*Waarskuwing: Die inhoud van die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Michael Patrick Turland (43). (Foto: Facebook / Mohave County-polisie)

ʼn Man van Arizona in die VSA staan op 94 aanklagte van dieremishandeling tereg nadat 183 diere – waaronder honde, skilpaaie en hase – in sy vrieskas gevind is.

Luidens ʼn verklaring Donderdag deur die Mohave County-polisie het Michael Patrick Turland (43) sommige van die diere gevries terwyl hulle nog geleef het.

Turland se inhegtenisneming volg bykans twee weke nadat die polisie ʼn dierewelsynsbesoek by sy huis in Golden Valley afgelê het.

Die vrou wat die polisie ontbied het, beweer dat Turland ingestem het om met haar slange te teel, maar toe maande lank skoonveld verdwyn het.

Die vrou voer aan dat sy deur die nuwe eienaar van Turland se huis genader is wat glo aan haar gesê het dat hy ʼn vrieskas vol dooie diere in die motorhuis ontdek het.

Turland en sy vrou het glo getrek en die nuwe eienaars was besig om skoon te maak toe hulle op die gruvonds afgekom het.

Toe die polisie die vrieskas oopmaak, het hulle dooie honde, skilpaaie, akkedisse, voëls, slange, muise, rotte en hase aangetref.

“Die plasing van hul oorskot dui daarop dat van die diere lewend gevries is,” lui die verklaring.

Hoewel die polisie aanvanklik gesukkel het om met Turland kontak te maak, het hulle hom op 13 April opgespoor en in hegtenis geneem. Hy het glo tydens ondervraging erken dat hy inderdaad van die diere gevries het terwyl hulle nog geleef het.

Die polisie het nie ʼn motief vir die beweerde optrede bekend gemaak nie, maar sê die ondersoek duur voort.

Turland word tans by die Mohave County-tronk aangehou. Owerhede is steeds op soek na sy vrou, wat intussen as Brooklyn Beck geïdentifiseer is, vir verdere ondervraging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.