Man kan lank sit oor video van Christchurch-aanvalle

Philip Arps (Foto: Mark Mitchell, AP)

ʼn Sakeman van Christchurch in Nieu-Seeland het skuldig gepleit dat hy ʼn video rondgestuur het wat deur ʼn gewapende aanvaller geneem is.

Dit wys hoe die aanvaller 50 mense by twee moskees begin doodskiet.

Philip Arps het skuldig gepleit op twee aanklagte dat hy die video versprei het. Hy bly in aanhouding tot hy op 14 Junie gevonnis word. Hy staar tot 14 jaar tronkstraf in die gesig.

Die staat het die 44-jarige Arps daarvan beskuldig dat hy die video aan ʼn onbekende persoon gestuur het, en dié persoon beveel het om ʼn visier en ʼn dodetal in te voeg. Aanklaers het gesê Arps het die video daarna na 30 mense aangestuur.

Die skieter het ʼn kamera op sy valhelm vasgemaak en die aanval regstreeks op Facebook uitgesaai. Kopieë is van die skokkende video van 17 minute lank gemaak en wyd op die internet gekyk, terwyl IT-maatskappye gespook het om dit te verwyder.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het die afgelope week gesê die aanvaller het sosiale media op ʼn ongekende manier gebruik om ʼn daad van haat en terrorisme te bevorder.

Die land se hoofsensor, David Shanks, het die video en ʼn manifes wat die persoon wat van die aanval beskuldig word, geskryf het, verbied. Dit beteken in Nieu-Seeland is dit onwettig om die video te kyk, te besit, óf te versprei. Talle mense voer egter aan die verbanning van die video maak inbreuk op die reg op vryheid van spraak.

Minstens ses mense is aangekla dat hulle die video versprei het. Arps en nog ʼn persoon, ʼn 18-jarige, het in Maart agter tralies beland. Die ander vier is nie in aanhouding nie.

Die 18-jarige word daarvan aangekla dat hy die video en ’n foto van die Al Noor-moskee gedeel het met die woorde “teiken bereik”. Meer as 40 mense is by die moskee vermoor. Hy verskyn weer op 31 Julie, wanneer die hof sal oorweeg of hy op borgtog vrygelaat mag word en elektronies dopgehou sal word.

ʼn Australiër, Brenton Tarrant (28), staan tereg op 50 aanklagte van moord en 39 aanklagte van poging tot moord vir die aanvalle. Sy volgende hofverskyning is op 14 Junie.

Ardern het vandeesweek aangekondig dat sy en die Franse president, Emmanuel Macron, ʼn vergadering in Parys, Frankryk, gaan hou, waar hulle maniere sal probeer vind om te probeer verhoed dat optrede van gewelddadige ekstremisme en terreur aanlyn versprei word.

Ardern het gesê sy en Macron gaan wêreldleiers en die uitvoerende hoofde van tegnologiemaatskappye vra om in te stem tot die sogenaamde Christchurch-belofte. Sy het nog nie verdere besonderhede daaroor bekend gemaak nie, en sê dit is nog in die ontwikkelingsfase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Roberto Betta

Yet aftermath footage of the church bombings are shared easily and freely, why is that?

Nico

Lyk my NZ se regstelsel is besig om koekoes te raak!

Kaptein

Dit begin met die ekstreme video’s – en dan brei die sensuur net uit oor tyd, om byvoorbeeld enige spraak teen die regering in te sluit.

Stephen Namibia

Ek het nog nie iewers gelees dat Jacinda Ardern die bomaanvalle in Sri Lanka op Christene veroordeel nie.

Countryboy

Maar tog kan mens talle geweldadige videos op youtube kyk van ISIS extremiste…wat is die verskil dan…?