Man met 39 vroue, 94 kinders sterf in Indië

Foto: @MizoramGovernor/Twitter

ʼn Poligamis en sekteleier met 39 vroue, 94 kinders en 33 kleinkinders, is in die ouderdom van 76 in Indië oorlede.

Zionnghaka Chana, wat in die afgeleë staat Mizoram gewoon het as patriarg van een van die wêreld se grootste gesinne, het aan diabetes en hoë bloeddruk gely. Hy is Sondag in ʼn hospitaal oorlede, het Press Trust of India berig.

Minister Zoramthanga van Mizoram het laat Sondag op Twitter gesê die staat het “met ʼn swaar hart” van Chana afskeid geneem.

“Mizoram en Chana se dorpie Baktawng Tlangnuam het ʼn groot toeristebestemming geword weens die gesin,” het Zoramthanga bygevoeg.

Die sekte, wat deur Chana se oupa in die 1930’s begin is, het sowat 1 700 lede insluitend vier generasies van die Chana-familie. Talle van hulle kerf houtmeubels en doen pottebakkery.

Die filosofie is gebaseer op Christelike beginsels, maar leiers van die Presbiteriaanse kerk, die grootste geloof in die staat, verwerp Chana se poligamie.

Chana het as 17-jarige vir die eerste keer getrou, aldus plaaslike media.

Vorige berigte oor die gesin het verduidelik dat hulle almal in ʼn vierverdieping-huis woon. Die slaapkamers is soos ʼn koshuis ingerig, elk met ʼn gemiddeld van 20 beddens. Die kinders slaap saam met hul ma’s wat beurte gemaak het om in die hoofslaapkamer te gaan slaap.

Een van die vroue het gesê die gesin kook elke dag 25 kg rys, 40 kg aartappels en 5 kg lensies. Die gesin eet drie keer per week vleis wanneer 30 hoenders en ʼn vark gebraai word.

Die volume kos of voorbereiding oorweldig egter nie die vroue nie: elkeen in die gesin het ʼn spesifieke taak om te verrig en aandete word binne ʼn uur voorberei en die eetgerei word binne minute gewas en weggepak.

Die Guinness-wêreldrekordboek wou vroeër ‘n inskrywing gemaak het oor Chana, maar hy het nie in die publisiteit belanggestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kokerboom ·

Hy het die Ou Testamentiese opdrag aan volk Israel(nee Indië) baie ernstig opgeneem

RS ·

Daar moet n wet wees teen dit. Dis te erg, Het amper nie kos om almal te voer nie, maar hul maak net nog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.