Man met 60 reptiele onder sy klere betrap

Baardakkedisse. Foto ter illustrasie. (Foto: Francois Gueillot/ AFP)

ʼn Amerikaanse man word deur dekades lange tronkstraf in die gesig gestaar nadat hy probeer het om 60 slange en ander reptiele onder sy klere die land in te smokkel.

Jose Manuel Perez het dié “meesterplan” ses jaar lank in sy huis in suidelike Kalifornië bedink. Die plan het behels dat 1 700 diere ter waarde van 750 000 dollar (R12,6 miljoen) van Mexiko en Hongkong die VSA ingebring word.

In ʼn pleitooreenkoms met die departement van justisie het Perez erken dat hy soms muile betaal het om die diere te vervoer en dat hy by ander geleenthede self die grens onwettig oorgesteek het.

Die diere sluit in Yucatan-boksskilpaaie, klein krokodilletjies en ʼn Mexikaanse baardakkedis. Hy het hulle dan aan kliënte reg oor die VSA verkoop.

Alles het goed verloop totdat hy in Maart vanjaar die grens van Mexiko probeer oorsteek het met 60 gediertes wat rondom sy lieste en ander dele van sy klere versteek was. Hy het aanvanklik vir doeanebeamptes gesê sy troetel-likkewaan is in sy sak, maar is toe met 60 reptiele aan sy lyf betrap.

Een hiervan was ʼn Isthmian-dwergluislang, ʼn slang wat van kleur kan verander en bloed uit sy oë uit kan laat vloei om homself te beskerm.

Drie van die diere was dood.

Perez het skuld beken op twee aanklagte van smokkelary, wat ʼn vonnis van 20 jaar elk kan oplewer, en onwettige handel in wild, waarvoor hy tot vyf jaar tronkstraf opgelê kan word. Hy sal op 1 Desember gevonnis word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.