Man neem eie lewe ná dood van lewensmaat

Hayden Kennedy (27) en Inge Perkins (23) (Foto: Facebook)

ʼn 27-jarige man van Montana in die VSA het sy eie lewe geneem kort nadat sy vriendin in ʼn sneeustorting oorlede is.

Doug Chabot, hoof van die Gallatin National Forest Avalanche Center, het gesê die paartjie, wat geïdentifiseer is as Hayden Kennedy (27) en Inge Perkins (23), het glo gaan ski in die Imp Peak-berge in die suide van Bozeman in Montana.

Volgens Chabot het ʼn sneeustorting ontstaan en vir Perkins oorval. Sy is in dié sneeustorting oorlede.

Chabot sê Kennedy het nie die 911-noodnommer gebel om die sneeustorting aan te meld of soek-en-reddingspanne na die toneel te ontbied nie, maar ʼn nota aan die polisie gelos oor waar haar liggaam gevind kan word. Dit is nie duidelik hoe hy sy eie lewe geneem het nie.

“Hy het ʼn nota gelos om te sê waar die sneeustorting plaasgevind het. Daar was duidelike aanduidings oor waar om haar liggaam te kry,” sê Chabot.

Kennedy se gesin het intussen in ʼn verklaring bevestig dat hy sy eie lewe geneem het, en gesê hulle respekteer sy besluit. “Hayden het die sneeustorting oorleef, maar nie die ondraaglike verlies van sy lewensmaat nie. Hy het gekies om sy lewe te beëindig en ons respekteer sy besluit,” lui die verklaring.

Perkins was besig om ʼn graad in wiskunde en onderwys aan die Montana State-universiteit te voltooi. Kennedy het vroeër vanjaar by haar aangesluit om ʼn kursus in bergklimopleiding te voltooi.

Kennedy het minder as ʼn maand gelede sy hart uitgestort in ʼn blog-inskrywing vir Evening Sends. Hierin het hy oor die gevaar van dié sport geskryf. “Oor die laaste paar jaar het ek te veel vriende gehad wat nié van die berge af teruggekeer het nie. Ek het iets baie pynliks besef – dis nie net die onvergeetlike oomblikke wat verbygaan nie, dit is die lewe van ons vriende en vennote ook.”

Bron: Outside Online

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.