Man ‘nie verantwoordelik’ vir Times Square-voorval

Richard Rojas (Foto: Twitter)

Die man wat in 2017 met sy motor tussen voetgangers in Times Square in die Amerikaanse stad New York ingeploeg en die dood van ʼn 18-jarige vrou veroorsaak het, kan nie verantwoordelik gehou word vir die aanval nie, omdat hy aan ’n geestesongesteldheid gely het ten tyde van die voorval.

CBS News berig ’n jurie in Manhattan het Woensdag bevind dat Richard Rojas (31) weens sy geestesongesteldheid nie ʼn standaard tronkstraf opgelê kan word nie, maar eerder na ’n psigiatriese instituut gestuur moet word.

Rojas is destyds onder meer van moord en poging tot moord aangekla, waarop hy skuld ontken het.

Rojas het op 18 Mei 2017 met sy motor op ʼn sypaadjie in Times Square tussen voetgangers ingejaag en drie en ʼn halwe blokke ver gery voordat hy teen verkeersversperrings tot stilstand gekom het.

Alyssa Elsman (18) is in dié voorval dood en haar 13-jarige suster, Ava, was onder die 22 beseerdes. Vier van die beseerdes was in ʼn kritieke toestand en nog drie het ernstige beserings opgedoen.

Alyssa Elsman (Foto: Twitter)

CNN berig toe Rojas uit die motorwrak klim, het getuies op die toneel hom in bedwang probeer hou. Luidens die strafregtelike klag het hy aan ’n verkeersbeampte gesê: “Ek wou hulle almal doodmaak.”

Rojas het positief getoets vir die dwelmmiddel PCP en aan die polisie gesê: “God het vir my gesê om dit te doen.” Hy het ook aan die polisie gesê hy het verwag dat hulle hom sou skiet.

Hy het eers probeer vlug, maar is op die toneel in hegtenis geneem en na ʼn mediese fasiliteit geneem waar hy vir dwelmmiddels en alkohol in sy bloed getoets is.

Kort ná die aanval het stadsamptenare en wetstoepassers gesê hulle ondersoek die moontlikheid dat Rojas ’n geskiedenis van geestesongesteldheid het.

Times Square, New York (18 Mei 2017). Foto: Xinhua/Wang Ying

“Volgens familielede het Rojas blyke getoon van geestesgesondheidskwessies en tekens daarvan het reeds in sy kinderjare gemanifesteer. Dit het nooit aandag gekry nie, selfs nie in die tyd toe hy in die Amerikaanse weermag was nie,” het Bill de Blasio, destydse burgemeester van New York, gesê.

Rojas is verskeie kere voor die aanval in hegtenis geneem, onder meer in 2013 toe hy in die vloot in Florida gestasioneer was. Hy het destyds skuldig gepleit voor ʼn militêre regter op ʼn klag van dronkbestuur, versuim om ʼn regverdige skuld te betaal asook dronk en wanordelike gedrag.

Rojas bly voorlopig in aanhouding en die partye sal na verwagting Donderdag die regter se ondersoekbevel in ʼn verhoor hersien.

Elsman se ma het Woensdag die jurie se besluit bevraagteken.

“As dit met enige van die jurielede se kinders gebeur het, sou hulle steeds gesê het ‘nie verantwoordelik nie’?” het ’n ontstelde Elsman aan CNN gesê. “Voel hulle veilig om in dieselfde area te woon waar Rojas weer op straat vry rondloop?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

miche ·

Jean, daar bestaan nie iets soos ‘n malhuis nie. Dit word ‘n psigiatriese hospitaal genoem.

madels ·

Lyk my moordenaars kan net “mal” speel dan word hul vry gespreek :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.