Man op parool gaan op moordtog

‘n Skermskoot uit ‘n video waar die verdagte deur die polisie vasgetrek word. (Australian Broadcasting Corporation via AP)

’n Man wat op parool was is weer in hegtenis geneem nadat hy Dinsdagaand op inwoners van Darwin, die hoofstad van Australië se Noordelike Gebied, met ʼn haelgeweer losgebrand het.

Vier mans het in die skietery omgekom terwyl ’n vrou gewond is.

Die slagoffers is binne ’n kwessie van ʼn uur op vyf verskillende plekke in die sentrale sakegebied geskiet, het Reece Kershaw, polisiekommissaris, gesê.

Van dié plekke sluit in die Palms-hotel en die stad se Buffalo-klub. Een slagoffer is by elk van dié plekke doodgeskiet. Die vrou wat geskiet is, het nie ernstige beserings in die voorval opgedoen nie.

Volgens Kershaw is die 45-jarige verdagte ná die skietery by ʼn besige kruising in die stad deur die polisie platgeduik en in hegtenis geneem.

Hoewel die polisie nog nie die motief vir die aanval bekend gemaak het nie, het hulle wel die moontlikheid van terrorisme uitgeskakel.

Die verdagte is in Januarie vanjaar op parool vrygelaat op voorwaarde dat hy ʼn elektroniese toestel dra wat sy doen en late monitor. Dit is nie in dié stadium duidelik op watter aanklagte die verdagte voorheen tronkstraf uitgedien het nie en of dié toestel gehelp het om die verdagte ná sy jongste misdryf vas te trek nie.

Die verdagte is tans onder polisiebewaking in ’n hospitaal. Hy is nog nie aangekla vir die jongste voorval nie.

Michael Gunner, hoofminister van die Noordelike Gebied, het gesê die stad het “’n verskriklike moeilike nag” agter die rug. “Dit is nie die Darwin wat ons ken nie. Dit mag dalk ’n voorval wees waarop jy voorberei, maar nie ’n voorval waarop jy hoop om te reageer nie,” het hy gesê.

Dit is Australië se derde massaskietery sedert die land strenger wapenwette ingestel het in reaksie op ʼn 1996-bloedbad waarin ʼn gewapende man 35 mense met twee semi-outomatiese aanvalsgewere in die staat Tasmanië doodgeskiet het. ’n Massaskietery word gedefinieer as ’n voorval waar minstens vier mense gedood word, met die uitsondering van die skieter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ES ·

Australia het ook maar hulle issues… vir almal wat soontoe wil vlug. Dit is net aansienlik minder as hier by ons.

Sirkus ·

Ja, hulle het ook probleme. Maar die groot verskil is jy kan en mag praat en redeneer en daar is platforms en organisasies waar probleme uitgestryk kan word. Daar is ook wet en orde en die howe en polisie se werk dra gesag en reëls en regulasies is aan die orde van die dag

rubberbal ·

duidelik was jy nog nooit in Australia nie …… jy kan nie daardie land vergelyk met SA nie ..

Colin ·

Jy mag praat en redineer? Vra vir Israel Folau of dit waar is…

Leon ·

Wat wys dit jou. Strenger wapen wetgewing veroorsaak meer moorde. Hoop Australië leer deur hierdie dom wet wat hulle ingebring het.

jaco ·

ek het gedink dit het in SA gebeur. Dis mos maar tipies Suid-Afrikaans. Gebeur oor en oor hier

DA BO ·

Op hierdie oomblik is enige land beter as SA. Dis n absolute en algehele wetteloosheid wat hier aangaan. Elke dag wat mens wakker word moet mens n dankie gebed doen dat jy nog leef en gespaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.