Man probeer vinke deur doeane smokkel vir ‘sangkompetisie’

Sommige van die voëls is in die man se baadjie versteek.

Doeanebeamptes by New York se JFK-lughawe het 35 lewende vinke vasgemaak aan ʼn man se baadjie en enkels gevind toe hy dit die land probeer insmokkel het. Volgens aanklaers wou hy die voëltjies in sangkompetisies gebruik.

ʼn Deursoeking het gelei tot tientalle klein, ronde houers met draadopeninge wat die voëls toegelaat het om asem te kry.

Sowat 12 van die houertjies, wat van haarrollers gemaak is, is aan die binnekant van die man se baadjie vasgemaak, terwyl die res om sy enkels vasgedraai is.

Nadat hy ondervra is, het die man gesê hy is $3 000 (sowat R43 000) aangebied om die voëls te vervoer. Hy het $500 (sowat R7 100) ontvang voordat hy die hoofstad van Guyana, Georgetown, verlaat het en sou die res van die geld ontvang nadat hy die voëls in die VSA besorg het.

Vinke is bekend vir hul vrolike en melodieuse sang en daar word gereeld kompetisies in die New Yorkse buurte Queens en Brooklyn gehou. Daar word ook op die voëls gewed.

Volgens ʼn spesiale agent van die Amerikaanse Vis- en Wildlewediens, kan ʼn wenvink meer as $10 000 (sowat R143 000) werd wees.

Vinke uit Guyana is veral in hoë aanvraag weens hul besondere sangvermoë.

Die man is vrygelaat op borgtog van $25 000 (amper R360 000).

Volgens die Verenigde Nasies het beamptes in 2017 op byna 21 000 wilde diere beslag gelê. Dit is die laaste jaar waarvoor ʼn syfer beskikbaar is.

Die vinke is in haarkrullers versteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stof ·

Die mooiste begroeting wat ons gehad het toe ons in Môregloed gewoon het, was die laatmiddagsang van die vinke wat in een van die bome op ons werf, kom slaap het. Dit was asof ons daagliks, gratis Staatsteater-kaartjies gehad het vir ‘n simfonie tot Vader se eer.
Die skoonheid van die skepping, verstom my daagliks.

Fedup ·

Humans and their never-ending activities for money.
It is a disgrace.

Eclectus ·

Amerika het al baie jare ‘n verbod op die invoer van voëls. Hierdie voorval is eintlik half menswaardig in vergelyking met hoe papegaaie vanaf Meksiko ingesmokkel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.