Man se liggaam in dinosourus-beeld gevind

Die beeld – wat hoofsaaklik vir advertensiedoeleindes gebruik is – is intussen van die plein verwyder (Foto: Google Maps via The Guardian)

Die polisie in Spanje ondersoek die dood van ʼn man wat vermoedelik dae lank binne ʼn groot dinosourus-beeld vasgekeer was. Dié man het glo sy selfoon, wat deur ʼn gat in die beeld geval het, probeer uithaal en toe self kop eerste in die hol beeld beland.

The Guardian berig ʼn pa en sy seun het Saterdag Spaanse owerhede ontbied nadat hulle ʼn liggaam binne ʼn papiermaché-dinosourus-beeld op ʼn plein in Santa Coloma de Gramenet in Barcelona gewaar het. Die pa het die liggaam deur ʼn gaping van dié stegosourus se been gesien. Hy en sy seun het ook ʼn eienaardige reuk in die omtrek geruik en só die regte gevolgtrekkings gemaak.

Volgens die polisie is die plaaslike brandweer ontbied om die beeld te help oopsny en die liggaam van die man uit te haal. Die liggaam is kop onderstebo in die dinosourus se poot aangetref.

Die polisie het die liggaam as dié van ʼn 39-jarige man geïdentifiseer, maar het nog nie sy naam bekend gemaak nie. Volgens plaaslike mediabronne het die familie die man enkele ure voordat sy liggaam ontdek is, as vermis by die polisie aangemeld.

Die polisie beskryf sy dood as ʼn ongeluk en sê geen vuilspel word vermoed nie.

Volgens BBC het die man kop eerste tot onder in die dinosourus se poot geval en kon moontlik nie uitkom of om hulp roep nie.

Die polisie wag tans op die uitslag van die lykskouing om die oorsaak van die man se dood te bepaal.

Hulle kan ook nog nie bevestig hoe die man in die beeld beland het of hoe lank hy daarin vasgekeer was nie. Die polisie vermoed egter hy was ʼn hele paar dae lank daarbinne.

Die New York Post berig die beeld – wat hoofsaaklik vir advertensiedoeleindes gebruik is – is intussen van die plein verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Is daar nie heelwat toeriste of selfs sekuriteit wat deur die plek loop nie? Die man sou mos na hulp roep en skree vir mense se aandag. Definitief een vir daai programme soos 1000 Ways to Die

Jerry ·

Dit bewys weereens hoe vinnig en onwetend n mens in n lewens gevaarlike situasie kan beland.

isabelle ·

nee EK WEET NIE SO LEKKER NIE ja n onegluk is baie vinnig
maar daai is nogal vergaande

Anthony ·

Hy kon seker nie omdraai nie, en het seker maar van die onderstebo wees bewusyn verloor. In my geestes oog sien ek hy staan half in n ” hand stand” possisie, arms het begin moeg raak en toe moes hy noodgedwonge al sy gewig dra op sy kop en nek . En dan is daar nog die tekort aan vars lug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.