Man skiet 5, homself dood: Dís dalk die rede

Javier Casarez. Die foto is deur plaaslike polisieowerhede uitgereik. Foto: Kern County Sheriff’s Office via AP

ʼn Liefdesdriehoek is moontlik die rede vir die tragiese voorval wat vandeesweek in die suide van Kalifornië in die VSA afgespeel het toe ʼn man vyf mense doodgeskiet en daarna homself om die lewe gebring het.

Die skietery, wat Woensdag in Bakersfield, sowat 145 km noord van Los Angeles, plaasgevind het, het skokgolwe deur dié land gestuur.

Plaaslike polisieowerhede het intussen die skieter as Javier Casarez (54) geïdentifiseer. Casarez het omstreeks 17:30 (plaaslike tyd) saam met sy eksvrou, Petra Maribel Bolanos De Casarez, by ʼn plaaslike vragmotoronderneming opgedaag waar hy gewerk het.

ABC News berig daar het Casarez vir Emanuel Contreras (50) gekonfronteer en doodgeskiet, voordat hy ook vir Petra afgemaai het. Die Los Angeles Times berig Casarez het vermoedelik gedink dat Petra en Contreras in ʼn romantiese verhouding is en dít het waarskynlik aanleiding tot die skietery gegee.

Antonio Valadez (50) het kort ná die skietery by die sakeonderneming aangekom en Casarez het hom agternagesit. Casarez het glo in sy motor gespring en Valadez tot by ʼn nabygeleë sportwinkel gejaag waar hy hom ook doodgeskiet het.

Casarez is daarna na ʼn huis in Breckenridgeweg waar hy Laura Garcia (31) en haar pa, Eliseo Cazares (57), doodgeskiet het. Volgens die Los Angeles Times word vermoed dat Garcia tussenbeide getree het toe die skieter haar pa wou skiet en dat hy haar daarom ook doodgeskiet het.

USA Today berig ʼn plaaslike polisiewoordvoerder het gesê Eliseo was ʼn vriend van Casarez en dat iets tussen die twee moes gebeur het, want Casarez “het vir Eliseo geteiken”.

Casarez het daarna ʼn voertuig gekaap waarin ʼn vrou en haar kind was en het op ʼn snelweg gery waar ʼn polisiebeampte hom agternagesit het. Hy het in ʼn parkeerplek ingedraai en uitgeklim. Die polisieman het hom genader en herhaaldelik beveel om sy vuurwapen neer te sit. Casarez het daarna die laaste skoot afgevuur, dié keer in sy eie bors. Hy is op die toneel dood.

Hoewel plaaslike owerhede steeds die presiese gebeure en motief daaragter ondersoek, het hulle dit reeds as ʼn “huishoudelikegeweld-tragedie” bestempel.

Casarez en sy eksvrou, Petra, het drie kinders van wie twee nog minderjarig is. Volgens mediaberigte sien die ouer kind nou na die ander twee om.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie ·

Oop oge….ek weet nie….maar wat is die les? Ten gunste van wie?

Lindtjies ·

Baie onsensitief oop oge.Moenie te gou oordeel nie. Dit is maar net bespiegelinge nie die ware feite nie en as dit die waarheid is dan verlekker jy jou nie in ander mense se probleme nie.

WAT??? ·

Ek verstaan nie hoekom nou ander mense eers doodmaak en dan jouself…As jy so baie graag wil moor..begin by jouself.
Ek wat se polisie is die? Die stuk tou aan die geweer lyk maar bra sleg…Hoe kan ‘n polisie man se geweer so ‘n tuisgemaakte stuk seil hê? En hy hou die geweer soos Rambo met een hand vas…Huh??

leser ·

“WAT???”
waars die video, dan bepaal ons die rede vir rambo se een-hand-vuurwapen posisie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.