Man skiet homself buite Withuis

Die Withuis. Foto: Facebook

ʼn Man van Washington het homself Saterdag buite die Withuis in dié Amerikaanse hoofstad doodgeskiet.

Die BBC berig die man het die omheining van die Withuis in Pennsylvanialaan omstreeks 17:00 Saterdagmiddag (internasionale tyd) genader en toe sy eie lewe geneem.

Luidens ʼn berig van die Washington Post was die man in die middel van ʼn groot groep mense toe hy verskeie skote afgevuur het, maar niemand anders is in die voorval beseer nie.

ʼn Video op sosiale media wys hoe omstanders weghardloop wanneer skote buite die Withuis afgevuur word.

Die Washington-polisie het dié voorval ook op sosiale media bevestig. “ʼn Volwasse man is op die toneel dood verklaar. Ons werk daaraan om sy naasbestaandes te identifiseer. Daar is nog geen nuwe inligting nie,” lui die verklaring.

Pres. Donald Trump van Amerika was nie in die Withuis ten tyde van die voorval nie. Trump en die presidentsvrou, Melania, is op ʼn werksbesoek in Florida.

Die identiteit van die man is nog nie bekend gemaak nie. ʼn Motief is ook nog nie in dié stadium bekend nie.

In die mees onlangse voorvalle buite die Withuis het ʼn man oor die heining gespring en minute lank op die terrein van die Withuis deurgebring met ʼn blikkie pepersproei. ʼn Vrou het ook onlangs teen een van die veiligheidsversperrings vasgery en was tydelik in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.