Man skiet homself ná moord op bejaarde

Steve Stephens (Foto: Facebook)

Steve Stephens van Cleveland in die VSA wat soek was ná hy Sondagoggend ʼn 74-jarige man koelbloedig afgemaai en ʼn video daarvan op Facebook gedeel het, het sy eie lewe geneem.

Volgens CNN het ʼn werknemer van McDonald’s glo Dinsdagoggend Stephens se wit Ford Fusion by dié wegneemrestaurant gewaar en die polisie in kennis gestel.

Stephens het op die vlug geslaan, waarna die polisie in Pennsilvanië hom agterna gesit het. Die polisie was in staat om hom in te haal, en het die wegholmotor met opset gestamp om hom te laat rem.

Stephens het homself in die kop geskiet voordat die polisie hom in hegtenis kon neem. Hy was nagenoeg twee dae soek vir die moord op Robert Godwin.

“Ons is dankbaar dat dit nou verby is,” het Calvin Williams, Cleveland-polisiehoof, gesê. “Ons sou verkies dat dit nie só geëindig het nie, want daar is baie vrae wat sy familie en inwoners van die dorp gehad het.”

Maroela Media het vroeër berig die verdagte het Sondag bloot van die pad afgetrek, met die 74-jarige begin gesels en hom toe doodgeskiet.

Stephens het toe later in ʼn video op Facebook gespog dat hy nog “talle ander mense” op dieselfde wyse vermoor het.

Gary Jackson, ʼn vriend van Stephens, het gesê hulle het verlede Donderdag gesels en dat Stephens toe nog “positief en vriendelik” was. Jackson het verder gesê hy glo nie Stephens het meer mense vermoor nie.

Stephens het tot onlangs pleegkinders by ʼn kinderhuis gementor. Dié kinderhuis het intussen in ʼn verklaring gesê die aanklagte van moord teen hom is ver verwyder van die persoon wat hulle ken.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Theresa ·

Mag mense dan sonder psigologiese toetsing vir kinders in pleegsorg mentor speel???? Verregaande. En daar is ‘n bewys van hoe wolf in skaapklere kan skuil? Dankie tog die kinders is ongedeerd. Nee wat, toets maar almal sover moontlik voor mentoraanstelling by goedgelowige kinders.

Jonathan ·

Daar was nou weer so ‘n geval in Fresno California. 3 mense dood.

Doodstraf ·

As ek dit nie verkeerd het nie, is die doodstraf steeds geldig daar en het die ou net die staat ‘n paar dollar gespaar

M ·

Dis jammer dat mal mense soos die altyd onskuldiges saam hulle die ewigheid invat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.