Man spring op haai toe hy vrou aanval

ʼn Branderplankryer het op die rug van ʼn drie meter lange haai gespring toe hy ʼn vrou aangeval het en die haai geslaan tot hy die vrou laat gaan het, het Australiese media Saterdag berig.

Die 35-jarige vrou het by Shelle Beach naby Port Macquarie 385 km noord van Sydney, branderplank gery toe die haai haar aan haar regterbeen gebyt het.

ʼn Mede-branderplankryer, glo die vrou se man, het tot haar hulp gesnel, het Steven Pearce, uitvoerende hoof van Surf Life Saving, aan die Daily Telegraph-koerant gesê.

“Die haai wou haar nie laat gaan nie, so ʼn branderplankryer het letterlik op sy rug gespring en hom geslaan tot hy haar laat los het,” het Pearce bygevoeg.

Die vrou het bytwonde aan haar regterkuit opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem. Sy is in ʼn ernstige, maar stabiele toestand.

“Ek loof die dapperheid van die branderplankryers wat haar gehelp het,” het Pearce gesê. “Ooggetuies het gesê dit was ʼn witdoodshaai, maar dit is nie bevestig nie. Die bytmerke sal geanaliseer word om dit te bevestig.”

Pearce het strandgangers gemaan om “haai-slim” te wees. “Realisties gesproke moet ons nie met sonsopkoms of met sonsondergang branderplank ry nie, maar meeste aanvalle wat ons vanjaar gesien het, was op verskillende tye van die dag, so dis moeilik om te sê.”

Haaie volg walvisse wat langs Australië se ooskus van die Antarktiese Oseaan migreer.

Ses mense is tot dusver in 2020 in Australiese water dood weens haai-aanvalle en nog ses is ernstig beseer, aldus Sydney se Taronga Zoo Shark Attack File. Dit maak dit tot dusver een van die ergste jare vir haai-aanvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

‘n Diep gebraaide King Klip met ‘n bottel rooi wyn vir daai branderplankryer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.