Man sterf toe hy reukweerder inasem

Argieffoto

Om reukweerder ­– die produk wat ʼn mens normaalweg onder jou arms spuit ­– baie diep in te asem kan dodelik wees, het dokters gewaarsku.

Dit kom ná ʼn 19-jarige wat dit misbruik het in die hoop om bedwelm te word daardeur, dood is. Dié geval is beskryf in die vakjoernaal BMJ Case Reports en is die eerste voorval van só ʼn sterfte in Brittanje sedert 1975.

Die man was in ʼn kliniek waar hy behandel is vir dwelmmisbruik, en het toe ʼn handdoek oor sy kop geplaas, reukweerder gespuit en dit ingeasem. Volgens die studie het hy op en af gespring en toe net neergeval. Noodbehandeling is by die kliniek toegepas waarna hy hospitaal toe geneem is.

Sy hart het gaan staan en moes ses keer geskok word (defibrillasie) waarna sirkulasie teruggekeer het. Hy is egter in ʼn koma na die waakeenheid oorgeplaas waar hy twee dae later dood is.

Die gevaarlike komponent in reukweerder en ander huishoudelike sproeie is butaan. Dit is ʼn koolwaterstofverbinding en oplosbaar in vet. Dit kan dus maklik die grens tussen die lug en bloed oorsteek, asook die een tussen die bloed en die brein. Butaan los op in weefsel met ʼn hoë vetinhoud soos die senuweestelsel, vetweefsel, die lewer en niere.

Daar is vele huishoudelike produkte wat misbruik kan word. Volgens die studie is dit gewoonlik tieners van 15 tot 19 jaar wat dit doen. Dit sluit kalk, verfverdunner, petrol, haarsproei, spuitverf, gom en gas in. Mense kan ook laggas (distikstofmonoksied), “poppers” (amielnitriet) en chloroform misbruik.

Mense snuif dit regstreeks in, spuit dit in ʼn sakkie en asem dit só in, of week klere in die middel en snuif dan daaraan.

ʼn Mens kan egter die eerste keer dat jy so ʼn middel misbruik reeds doodgaan, of weens chroniese gebruik. Volgens die studie sterf mense in 43% van gevalle wanneer hulle dit die eerste keer doen.

Nadat die kenners verskeie sterftes nagegaan het, is gesien 77% van mense wat middels inasem, sterf weens die uitwerking van die middel en 18% weens versmoring. Die middels tas hoofsaaklik die hart aan, asook die asemhalingstelsel en sentrale senuweestelsel.

In Suid-Afrika gebruik net minder as 1% van die bevolking middels wat hulle inasem, volgens ʼn studie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Willie ·

Ja verseker.

Maar nouja – die wereld het in elkgeval hopeloos te veel mense… tyd dat die dommes hulle self verwyder van die gene poel.

Ouvrou ·

Elsabe Brits, kan ek ek die President van jou Bewonderaarsklub wees asseblief. Groete vanaf Roodepoort.

Abe ·

Judge Dredd
Wat het Darwin hiermee te doen? ‘Wil graag weet.

Johann du Toit ·

Verstaan ook glad nie Judge Dredd se opmerking nie. Dit was selfdood omdat die persoon vir sy eie dood verantwoordelik was en daar was geen sprake van iemand wat hom gehelp het nie. So waar pas Darwin in die prentjie?

Henk ·

Ek dink n mens moenie die goed wat so misbruik word so publiseer nie. Ook nie hoe sommige mense dit gebruik nie. Jy kry baie nuuskierige mense wat dit net sal gebruik vir die “fun”.

Karolis ·

Henk, ek stem saam met jou en ook saam met Willie.
Ek wonder net hoe oud moet ‘n mens wees voordat jy genoeg geleer het om nie “stupid” te wees nie.
Hierdie is nie klein kinders nie, dit is wesens wat veronderstel is om iets tussen die ore te he.
Willie is reg, die gene poel is besmet.

Abe ·

Judge Dredd,
Verduidelik asseblief vir my wat is die Darwin Award. Ek verstaan nie die verwysing nie.

alida ·

Nog iets vir hierdie hopelose jeug om op die proef te stel.

Karolis ·

Ek het nie statistieke nie maar dit lyk vir my of die syfer vir misbruik van snuif- en inasem goeters effens onderskat word. Veral in die Oos-Kaap.

Nika ·

Julle is vinnig om die jeug te blameer… moenie vergeet wie het die jeug van vandag groot gemaak en opgevoed nie.

Judge Dredd ·

Ja, die liberale wil mos hul tiener kinders se beste maatjie wees – ‘n tyd wat mammas weer kan gaan jol en hulself jonk hou.

DS ·

Nika Ouers kan nie verantwoordelikheid neem vir ‘n 19 jarige man se besluite nie. Jy kan hulle opvoed tot op ‘ n sekere ouderdom maar jy nie vir hulle keuses maak nie. Niemand is perfek en my hart bloei want ongeag hoe geen ouer moet ‘n kind verloor nie.

Santie ·

Nika jy weet nie waarvan jy praat nie .die ouers kan nie blameer word vir die kind se keuses nie .daar is ouers wat meer as een kind het en soms is daar een wat die pad misloop hoekom nie al hul kinders nie

Ouvrou ·

Elsabe Brits, kan ek ek die President van jou Bewonderaarsklub wees asseblief. Groete vanaf Roodepoort.

BAIE BAIE hartseer ·

Jy het dan net vroër gesê dat mense hopelik so tekere sal gaan oor ‘n mens wat sterf as wat hulle tekere gaan oor ‘n dier wat mishandel/doodgemaak word. Een lewe minder is een te veel. Dit is baie baie hartseer.

Judge Dredd ·

Hierdie mens het sy EIE lewe geneem deur stupidgeit – hy is nie mishandel/verkrag/doodgemaak deur ander nie.
Verstaan jy die verskil ?

BB ·

Ek dink daar moet ook op alle produkte ‘n waarskuwing wees. Oor die algemeen gebruik mense te veel lug verfrissers en insekdoders in hul huise. Jy kan selfs die houers stel om dit elke paar minute in te asem. Weet mense nie dit is ongesond nie?

BAIE BAIE hartseer ·

@Judge Dredd. Ja askuus soos ek verstaan wou hy net ‘high’ raak. Miskien was dit ‘n ongeluk. En hy moes dalk van beter geweet het. Daar is altyd baie vrae. Spyt kom gewoonlik altyd te laat. Ai man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.