Man sterf tydens fratsongeluk op wittebrood

Argieffoto ter illustrasie. Foto: Pixabay.com

ʼn Pasgetroude paartjie van Israel se wittebrood het in ʼn nagmerrie ontaard toe die man kort ná ʼn fratsongeluk in Honduras gesterf het.

Die paartjie het Donderdag [5 Julie] tydens hul wittebrood op ʼn glydraad-avontuur gegaan toe die ongeluk gebeur het. Die vrou is ook ernstig beseer.

Volgens Newser was die paartjie op ʼn vaart wat in Roatan, een van Honduras se eilande, stilgehou het en het hulle Donderdagmiddag besluit om op ʼn glydraad-avontuur te gaan.

Die Jewish Telegraphic Agency berig die vrou, Shif Fanken (27), het in die middel van die draad se lengte tot stilstand gekom toe haar man, Egael Tishman (24), van agter af gegly gekom het en hulle met mekaar gebots het.

Volgens die Washington Post het Wilmer Guerrero, hoof van die Roatan-brandweer, aan hulle bevestig die voorval het omstreeks 13:30 plaasgevind.

“Fanken het in die middel van die draad vasgesit en haar man het in haar vasgegly,” het Guerrero gesê.

Fanken is in ʼn baie ernstige toestand na die hospitaal gehaas waar sy ʼn operasie moes ondergaan om haar toestand te stabiliseer.

Volgens Newser was Fanken en Tishman nog by hul bewussyn toe hulle by die hospitaal aankom, maar het Tishman later aan sy beserings beswyk, vermoedelik as gevolg van breinbloeding.

Die Israeliese departement van buitelandse sake het Vrydag gesê sy ambassade in Guatemala is besig om reëlings te tref vir Tishman se liggaam om na Israel gevlieg te word sodat begrafnisreëlings getref kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stormrider ·

Normaalweg sal ‘n professionele gids tog die geleentheid bestuur en toepaslik aksie neem? Hoe op aarde laat hulle iemand gly as iemand anders vassit op die spoor? Die gidse is tog opgelei vir sulke situasies? Ek verstaan dit glad nie.

Judge Dredd ·

2 mense op dieselfde glytou – blykbaar ontbreek die logika in Honduras.
Die eerste persoon se gewig maak dat die glytou ‘n steiler afwaartse helling het(afhangende van hoe styf die glytou is) vir 2de persoon – dus beweeg hy teen ‘n vinniger spoed as normaalweg.

Msp ·

Onsettende hartseer berig. Bid die naasbestaandes sterkte toe in die moeilike tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.