Man val 200 m ná selfie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jacob Jolibois/Unsplash)

ʼn Stapper wat op ʼn piek van ʼn bergreeks in die Amerikaanse deelstaat Arizona gekampeer het, is vroeër vandeesweek dood aangetref nadat hy honderde meters geval het. Die man het na bewering ʼn selfie geneem toe hy gegly en geval het.

Die sheriff in die gebied het Woensdag gesê dat die liggaam van Richard Jacobson (21) aan die voet van die Superstition-bergreeks gevind is nadat sy stapgenoot om 12:45 nooddienste ontbied het.

Jacobson het na raming meer as 200 m geval vanaf hul kampeerplek bo-op die Flatiron-piek in die Lost Dutchman- nasionale park, berig CBS News.

“Die slagoffer wou ʼn foto van homself met die stad se liggies in die agtergrond neem toe hy sy balans verloor, gegly en geval het,” het sers. Doug Peoble, lid van die plaaslike soek-en-reddingspan, gesê.

ʼn Helikopter van die departement van openbare veiligheid in Arizona het gehelp om Jacobson se liggaam terug te bring.

Volgens AllTrails, ʼn webwerf wat staproetes beoordeel, is die roete wat Jacobson en sy stapgenoot gevolg het een van die gewildste maniere om die piek te besoek.

People berig dat een stapgeesdriftige die roete as uiters uitdagend beskryf het.

“Dit is die moeilikste roete wat ek tot dusver hiér gedoen het, maar dit is die moeite werd wanneer jy bo kom,” skryf sy.

“Die laaste ent is beslis die moeilikste en jy moet jouself voorberei om baie rotse te klim.”

Ná ʼn reeks stapsterftes by die Grand Canyon in 2019 het Brandon Torres, hoof van nooddienste by die park, mense aangeraai om gefokus te bly tydens sulke roetes.

“Daar was al ʼn paar gevalle waar mense ʼn foto neem waar hulle maak asof hulle gaan afval, en dan regtig afval,” het hy gesê.

“Jy moet baie gefokus bly wanneer jy aan die rand van ʼn berg stap. Daar is eintlik soveel geleenthede om jou dood te val.”

ʼn Studie wat in 2018 in die mediese joernaal Family Medicine and Primary Care gepubliseer is, sê altesaam 259 mense is tussen 2011 en 2017 dood weens selfieverwante ongelukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Tragiese voorval. Jy moet altyd op jou hoede wees terwyl jy die natuur geniet.

Misky ·

Hierdie selfie nonsens is ‘n simpel besigheid en gee my sommer ‘n pyn waar ek nie pyne wil hê nie!!!! My bloedig vererg so tyd terug en was in ‘n winkelsentrum en jy stap nog te lekker, dan stop die jong meisies skielik en neem selfies en die lippe is “gepout”. Lyk sommer onnatuurlik en stupid.

Astrain ·

Onlangs het ‘n vrou wat self-obsessed is, my bril wat op die randjie vd swembad gelê het, in duisend stukke getrap…al wat sy gesê het is sorry…pleks val sy met selfoon en al in die swembad! Dit gaan als net oor “kyk vir my…ek was ook daar…”

Cherokee ·

Ek wens hulle wil leer…. die eerste foto(s) van ‘n meisie met getuite lippe, was sexy en pragtig. Daarna het dit iiriterend, na-aperig en verbeeldingloos geword.

Sandra ·

Mense en hulle gewaagde selfies. Hulle sal nooit leer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.