Man van ‘Hotel Rwanda’ vas oor terreurklagtes

Paul Rusesabagina by die hoofkantoor van die Rwandese Buro van Ondersoek (31 Augustus 2020) (Foto: AP Photo)

Paul Rusesabagina, wat in die fliek Hotel Rwanda as ʼn held uitgebeeld word wat die lewens van meer as 1 200 mense gered het tydens die land se menseslagting in 1994, is deur die Rwandese regering in hegtenis geneem op terreurklagtes, het die polisie Maandag aangekondig.

Rusesabagina, ʼn bekende kritikus van pres. Paul Kagame, woon al sedert 1996 buite Rwanda en die polisie het nie gesê waar hy aangekeer is nie. Hy het in ʼn stadium in België gewoon voor hy na Texas in die VSA verhuis het.

Die 66-jarige Rusesabagina was Maandag in boeie toe die polisie hom in die hoofstad Kigali aan verslaggewers gewys het. Hy is nog nie formeel in die hof aangekla nie.

“Deur internasionale samewerking wil die Rwandese Buro van Ondersoek die publiek in kennis stel dat Paul Rusesabagina in hegtenis geneem is,” het die polisie gesê. “Hy word daarvan verdink dat hy die stigter, leier, borg en lid is van gewelddadige, gewapende, ekstremistiese terreurgroepe, insluitend die Rwandese Beweging vir Demokratiese Verandering (MRCD) wat uit verskeie plekke in die streek en oorsee bedryf word.”

ʼn Internasionale lasbrief vir Rusesabagina se inhegtenisneming is uitgereik sodat hy tereg kan staan op ernstige aanklagte insluitend terrorisme, brandstigting, ontvoering en moord wat op ongewapende, onskuldige Rwandese burgers uitgevoer is, het die polisie gesê. Die polisie het aan media in Kigali gesê die ondersoek teen Rusesabagina duur voort en verdere inligting sal bekendgemaak word oor sy beweerde aktiwiteite.

Rusesabagina het vantevore die regering se aanklagte ontken dat hy Rwandese rebelle finansieel ondersteun. Hy spreek hom graag uit teen Kagame se regering en noem dit ʼn diktatorskap en maan Westerse lande om die regering te dwing om menseregte te respekteer.

Ondersteuners van die regering verwerp Rusesabagina se kritiek en sê Kagame se leierskap ondersteun demokrasie en ekonomiese groei.

Rusesabagina het al verskeie internasionale toekennings ontvang, waaronder die VSA se hoogste eerbewys, die Presidential Medal of Freedom, wat pres. George W Bush in 2005 aan hom oorhandig het.

Kagame bevraagteken Rusesabagina se storie dat hy tydens die menseslagting oorlewendes uit ʼn hotel in Kigali gered het, waartydens meer as 800 000 Tutsi en Hutus, wat hulle wou beskerm, deur Hutus doodgemaak is.

“Rusesabagina is een van die mees prominente kritici van die Rwandese regering en ʼn opposisie vir pres. Kagame,” het Gonza Muganwa, ʼn Rwandese politieke aktivis, aan die Associated Press gesê. “Sy inhegtenisneming sal beslis ʼn knou wees vir diegene wat Kagame se leierskap teenstaan.”

Die 2004-fliek Hotel Rwanda wys hoe Rusesabagina, ʼn Hutu wat met ʼn Tutsi getroud is, sy invloed as ʼn bestuurder van Hotel des Mille Collines gebruik om meer as 1 200 Tutsis toe te laat om in een van die hotel se kamers te skuil. Die rol word in die fliek vertolk deur akteur Don Cheadle.

Naphatal Ahishakiye, uitvoerende sekretaris van Ibuka, ʼn organisasie vir Rwandese oorlewendes, het gesê Rusesabagina se inhegtenisneming is goeie nuus vir die oorlewendes van die menseslagting. Ahishakiye het gesê Rusesabagina het mense geld gevra om in die hotel te oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Porseleintjie ·

‘n Lemoen bly tog ‘n lemoen. Selfs ‘n appel is en bly net ‘n appel.

madels ·

As dit waar is wat die regering van hierdie man sê, dan is dit regtig SIEK en om van naar te word .. mag die waarheid uitkom!

Jack ·

Wel die tutsis is in beheer en hulle maak jag op die hutus. Vergelding. Laat my dink aan wat in ons land aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.