Man vas ná hy dreig om teen winkel vas te vlieg

(Foto: Skermskoot/@CityKing_Gank_/Twitter)

ʼn Man wat gedreig het om ʼn ligte vliegtuig teen ʼn Walmart-winkel in die Amerikaanse deelstaat Mississippi vas te vlieg, het uiteindelik in ʼn veld geland waarna hy in hegtenis geneem is.

Die Beechcraft-vliegtuig het lank oor die stad Tupelo en ʼn nabygeleë gebied gesirkel voor die ligte vliegtuig geland het.

Die vlieënier, wat as Corey Wayne Patterson geïdentifiseer is, sal aangekla word van diefstal en terreurdreigemente, het CNN berig.

John Quaka, Tupelo-polisiehoof, het gesê bykomende aanklagte is waarskynlik. Die motief vir die voorval is nog nie bekend nie.

Quaka het gesê Patterson het 10 jaar lank  vir Tupelo Aviation gewerk waar hy onder meer vliegtuie met brandstof gevul het. Hy het glo ʼn mate van vlugonderrig, maar dit blyk dat hy nie ʼn gelisensieerde vlieënier is nie.

Patterson het glo 911 geskakel en gedreig om teen ʼn Walmart-winkel vas te vlieg. Die afdelingswinkel en ʼn naburige vulstasie is ontruim, en mense is gewaarsku om weg te bly.

Volgens Quaka het polisieonderhandelaars radiokontak met Patterson gemaak en daarin geslaag om hom te oorreed om by die lughawe te land.

ʼn Private vlieënier is ingespan om Patterson deur die proses aanwysings te gee, maar hy het op die laaste oomblik besluit om nie te land nie en het weg van Tupelo begin vlieg.

Patterson het in daardie tyd ʼn boodskap op sy Facebook-blad geplaas waarin hy totsiens gesê het, blykbaar omdat sy brandstof opgeraak het. Hy het egter daarin geslaag om die vliegtuig in ʼn veld te laat neerstryk voor hy die polisie van sy ligging in kennis gestel het.

Quaka het aan verslaggewers gesê hy was in verbinding met Patterson se familie, wat “baie bekommerd” was oor sy welstand.

Die Federale Lugvaartadministrasie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.