Man vas ná koelbloedige moorde van haweloses

Gerald Brevard (Foto: Twitter)

ʼn 30-jarige man wat verbind word met die koelbloedige skietery van vyf hawelose mans die afgelope twee weke in Washington en New York, VSA, is Dinsdag ná ʼn intensiewe soektog in hegtenis geneem.

Die man is in die vroeë oggendure in die suidooste van Washington in hegtenis geneem.

Die polisie het nie die verdagte uitgeken nie, maar The New York Times het hom geïdentifiseer as Gerald Brevard, ʼn 30-jarige Washington-inwoner met ʼn geskiedenis van geestesongesteldheid.

Die koerant, met verwysing na wetstoepassingsbronne, het gesê Brevard het ʼn misdaadrekord en is in 2019 tydelik in ʼn psigiatriese hospitaal in Washington opgeneem.

Die owerhede in Washington en New York het ʼn beloning van $70 000 (R1,05 miljoen) aangebied vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die man kan lei.

“Ons het belowe dat ons die moordenaar voor die gereg sal bring,” het Eric Adams, burgemeester van New York, op Twitter gesê. “Ons het daardie belofte nagekom. Dankie aan al die wetstoepassingsbeamptes vir hul goeie werk.”

Die inhegtenisnemings het plaasgevind net ure nadat Adams en Washington se burgemeester, Muriel Bowser, asook die polisiehoofde van die twee stede ʼn gesamentlike nuuskonferensie gehou het om ʼn beroep op lede van die publiek te doen vir inligting oor ʼn man wat hulle as ʼn “koelbloedige moordenaar” bestempel het.

Adams het ʼn plan aangekondig net weke nadat hy in Januarie sy amp begin beklee het om hawelose mense uit die stad se groot moltreinstelsel te skuif, waar talle noodgedwonge ysige nagte slaap.

Maar dit het skerp kritiek ontlok van nieregeringsorganisasies wat gesê het in die afwesigheid van behuising is die metro die plek waar hawelose New Yorkers die veiligste voel.

In Oktober 2019 het ʼn hawelose man met ʼn metaalpyp vier ander hawelose mense in New York doodgeslaan en ʼn vyfde man in ʼn kritieke toestand gelaat.

In hul slaap geskiet

Die skietvoorvalle, wat tussen 3 Maart en 12 Maart plaasgevind het, het twee hawelose mans dood en drie gewond gelaat. Drie van die skietvoorvalle het in Washington en twee in New York plaasgevind.

Die polisie het verskeie foto’s en video’s vrygestel van die man wat gesoek word omdat hy hawelose mans agtervolg en geskiet het terwyl hulle op straat geslaap het.

Die beelde was van ʼn lang man met ʼn kaalgeskeerde kop en ʼn baard, wat heeltemal in swart geklee was.

In een video skop die man – wat blou chirurgiese handskoene en ʼn swart klapmus aangehad het – ʼn man wat in ʼn geel slaapsak toegedraai is. Hy kyk daarna rond en brand dan met ʼn pistool los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bertus ·

Is dit die beste waarmee julle narre kan opkom? Mense is DOOD.

Marthinus W ·

Amerika het n probleem met haweloses. So paar jaar gelede, dink dit was 2018, het die Vlaamse nuus Het Joernaal berig dat in New York alleen, daar elke aand meer as 60 000 haweloses [mans, vroue, kinders] op die sypaadjies slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.