Man vas ná meisie (9) by troue vermis raak

Maelys de Araujo (Foto: Gendermarie Nationale/AP)

ʼn 34-jarige man van Grenoble in die suide van Frankryk is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ʼn negejarige meisie wat op 27 Augustus by ʼn troue vermis geraak het.

Owerhede krap steeds kop nadat dié meisie, wat as Maelys de Araujo geïdentifiseer is, spoorloos verdwyn het.

Volgens owerhede het die verdagte, wat vroeër deur die polisie ondervra is maar nié toe in hegtenis geneem is nie, ook die troue bygewoon.

Die Franse polisie het in ʼn verklaring gesê die man het tydens die ondervraging ontken dat hy enigiets met die negejarige se ontvoering te doen gehad het, maar dat die polisie nie deur sy antwoorde oortuig was nie. Hy is ná ʼn voorlopige ondersoek vasgetrek.

Talle mediaberigte het vroeër gesê bewyse van De Araujo se DNS is in die man se motor gevind.

Bernard Meraud, die verdagte se prokureur, het aan die Franse BMFTV-televisiekanaal gesê die DNS-bewyse is in die motor gevind slegs omdat sy vroeër die dag saam met ʼn vriendin na die man se hond, wat glo in sy motor was, wou gaan kyk.

“Hulle het na hom gekom en gevra of hulle sy honde in die motor kan sien,” het Meraud gesê. “Hy het die deur oopgemaak, die sitplek aan die passasierskant oopgeslaan, die kinders het op die agtersitplek gaan sit, in die kattebak [na die honde] gekyk, en uitgeklim. Dis dit.”

Die polisie se honde-eenheid het vroeër die spoor van die meisie opgetel, maar dit later verloor.

Meer as 200 getuies is al in die saak ondervra en talle het al vrywillig met die soektog gehelp, maar niemand kon tot dusver nog daarin slaag om meer inligting oor De Araujo se ontvoering te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LS ·

Dit is vreeslik hartseer !!! Ek sal mal word as een van my kinders moet verdwyn en mens weet nie waar om te begin soek nie!
Sterkte aan die familie en vriende, ek sal bid dat sy spoedig en ongedeerd gevind word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.