Man vas ná moord op Nieu-Seelandse polisielid

Gewapende polisielede op die toneel waar die skietery plaasgevind het. (TV New Zealand via AP)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn Nieu-Seelandse polisiebeampte Vrydag in Auckland doodgeskiet het, het weens die Covid-19-pandemie aanlyn in die Waitakere-distrikshof in Wes-Auckland verskyn.

Die 24-jarige man staan tereg op verskeie aanklagte, wat insluit moord, poging tot moord en roekelose bestuur wat ʼn besering veroorsaak het. Hy bly in aanhouding en sal volgende maand in die hooggeregshof verskyn. Die hof het intussen beveel dat sy naam nie bekend gemaak mag word nie.

Die man word daarvan beskuldig dat hy konst. Matthew Hunt (28) Vrydag tydens ʼn roetine-padblokkade doodgeskiet het. Hunt was ongewapen.

Nog ʼn polisiebeampte is in die voorval gewond en ʼn lid van die publiek is raakgery deur die voertuig wat die skieter as wegkommotor gebruik het. Albei is in ʼn bestendige toestand in die hospitaal.

Dit is die eerste keer in 11 jaar dat ʼn Nieu-Seelandse polisielid doodgeskiet word. Sedert 1890 is altesaam 33 van die land se polisie aan diens doodgeskiet – die jongste voorval in 2009 toe konst. Len Snee in Napier vermoor is. Sedert 2002 is 15 polisiebeamptes gewond.

Nieu-Seelandse polisielede is as ʼn reël nie gewapen nie, maar vuurwapens word in die kattebak van hul polisievoertuie gehou. Die land het verlede jaar nuwe vuurwapenwetgewing ingestel wat die dodelike soort semi-outomatiese vuurwapens verbied. Dit het gekom ná ʼn massaskietery wat vroeër die lewens van 51 mense by twee moskees in Christchurch geëis het.

Die polisie het intussen Saterdag ook ʼn 30-jarige vrou in hegtenis geneem. Natalie Jane Bracken, ʼn inwoner van Auckland, word onder meer aangekla dat sy die man ná die moord op Hunt gehelp het. Die polisie het vroeër ʼn beroep op die publiek gedoen om Bracken te help opspoor.

“Dit is verpletterende nuus. Ons polisiebeamptes werk elke dag bitter hard om ons en ons gemeenskappe veilig te hou,” het Jacinda Ardern, Nieu-Seeland se eerste minister, gesê.

Hunt se familie het hom beskryf as ʼn man van groot integriteit wat daarvan gedroom het om ʼn polisiebeampte te word. “Sy naaste vriende was soos sy broers en susters en hulle is saam met sy gesin gebroke.”

ʼn Grootskaalse soektog is Vrydag na die skieter van stapel gestuur nadat hy losgebrand en saam met sy medepligtige weggejaag het. Verskeie skole in die gebied is opdrag gegee om dadelik hul deure te sluit, padblokkades is opgestel en mense is aangesê om die gebied te vermy. Die man is ʼn paar uur later aangekeer.

Bronne: Xinhua, Dpa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johanf ·

So tragies, my simpatie aan familie, naasbestaandes en vriende….
Mooi, Nieu-Seelandse Polisie, julle is ń voorbeeld.

JohanR ·

Dit is die eerste keer in 11 jaar dat ʼn Nieu-Seelandse polisielid doodgeskiet word. Kyk maar net na SA 2009/2010 : Pretoria – One hundred and ten police officers had lost their lives between April 2009 and April 2010, Police Minister Nathi Mthethwa said in Pretoria on Thursday. 110 in een jaar. Se nou daai statistiek word 110 x 11 = 1210. Plaas moorde : South African government data indicated between 58 and 74 murders on farms annually in the period 2015–2017; out of an annual murder count of 20,000 total. Kom ons se maar 66 plaas moorde elke jaar dan 66 x 11 = 726. 726 boere en van hulle gesinne wat nie meer saam met ons is nie, en waar ‘n werkende plaas moes verkoop word, of in puin geval het en meer as net die boer en sy gesin her daaronder gely. Maar het Mandela, Mbeki, Zuma, Ramaphosa een duit omgegee? Onlangs 7 aanvalle in die Onderstepoort omgewing in een week, and the silence from Cyril Ramaphosa is deafening! WHITEFARMERSLIVESMATTER! Buig die knie? Net vir my God!

Niel ·

Wow. Van NZ polisie tot SA plaasmoorde. Hoe op aarde kom jy daarby uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.