Man vas ná sensitiewe inligting van Pentagon uitlek

Foto ter illustrasie van Jack Teixeira en Discord. (Foto: Stefani REYNOLDS / AFP)

Die FBI het Donderdag ’n jong lid van die Amerikaanse lugmag se nasionale wag in hegtenis geneem nadat talle geklassifiseerde dokumente uitgelek het. Dit sluit in sensitiewe inligting oor die voortslepende oorlog in Oekraïne.

Dié dokumente het oor die afgelope paar maande op ’n aanlyn kletsgroep die lig gesien en word beskou as die ernstigste sekuriteitsbreuk sedert WikiLeaks in 2010.

Die Amerikaanse prokureur-generaal, Merrick Garland, het Donderdag gesê Jack Teixeira (21) is in hegtenis geneem nadat die Amerikaanse regering ondersoek ingestel het na die beweerde “ongemagtigde verwydering, besit en oordrag van geklassifiseerde nasionale verdedigingsinligting”.

Hy sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Alle vingers het na Teixeira gewys sedert The Washington Post verlede week berig het dat honderde bladsye van geklassifiseerde dokumente op die sosialemediaplatform Discord gelaai is deur ’n man wat op ’n Amerikaanse militêre basis gewerk het.

Luidens ’n berig in The New York Times wys ’n “spoor van digitale bewyse” na Teixeira as die leier van die private kletsgroep op Discord waar die dokumente maande lank stuk-stuk deur ’n persoon met die skuilnaam OG opgelaai is.

OG het aan die groep van 24 lede, van wie sommige van Rusland en Oekraïne, gesê dat hy ’n gedeelte van sy dag in ’n veilige fasiliteit deurgebring het wat selfone en ander elektroniese toestelle verbied het.

Luidens The Washington Post se berig het OG aanvanklik die inhoud van die geklassifiseerde dokumente neergeskryf om met die groep te deel, maar later foto’s van die dokumente begin neem en op die groep begin laai.

OG het egter die lede op die groep gevra om nie die dokumente te versprei nie.

Die uitgelekte dokumente skets ’n gedetailleerde prentjie van die oorlog in Oekraïne en inligting oor China en bondgenote.

’n Woordvoerder van Discord het sedert Teixeira se inhegtenisneming aan AFP gesê gebruikersveiligheid geniet prioriteit, en dat inhoud wat die beleid daarvan oortree, daartoe kan lei dat mense verban word, bedieners gesluit word en die polisie in kennis gestel word.

“Ons werk ​​saam met wetstoepassing wat die oënskynlike oortreding van geklassifiseerde materiaal betref,” het die woordvoerder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pierre ·

In die VSA is dit verraad met lewenslange vonnis sonder die opsie van parool

Pietertjie ·

Dis fluitjie-blasers se lot: die boodskapper word eerste aangeval, en die trefkrag van die boodskap is daarmee heen.

annie ·

… ‘n klein vissie. Die CIA en FBI se klein mistakie om dubbele agente mis te kyk voor die New York-torings ingeplof het, is toegesmeer vir meer as 20 jaar. Wie gee nou om. Hierdie geheime dokumente-debakel kan onmoontlik deur so jong knaap en vriende alleen veroorsaak gewees het… As dit die volle waarheid is. Daar word bespiegel dat die sg uitlap deur Deep State in die Pentagon bewimpel is om Rusland om die bos te lei.

TruthDealer ·

Oor jou laaste sin: Ek glo die Russe hou dit in gedagte. Wel ek hoop so, in elk geval.

Vexed ·

Die mense is besig om almal se lewe met hulle oorlog te verwoes maar ons mag nie weet wat aangaan nie? Onaanvaarbaar.

Grassie ·

Wat die man gedoen het is verraad teenoor sy eie land. Hy verdien ‘n swaar straf. Ons ou Boerevolkie het tydens die Anglo-Boereoorlog ongelukkig ook sulkes in ons geledere gehad. Hul nasate het so 30 jaar gelede weer hul kleure gewys hier in ons land.

JvR ·

Die problee met “hoogs geheime” dokumente. Regerings maak besluite wat die hele pubiek beinvloed, maar niemand mag weet wat aangaan nie.

Pietertjie ·

Dis nou as die dokumente nie fop-nuus is nie. Mens kan deesdae niks meer op sigwaarde skat nie omdat die waarheid plek gemaak het vir die leuen.

Treurwilger ·

Die Pentagon se naam is in elk geval nadese, asof dit nie reeds was nie, heeltemal aan flarde.

Marthinus W ·

Soos met die 9/11-aanval. n Boeing 757 het op daardie dag glo in die Pentagon ingevlieg, maar tot vandag toe is nie een enkele foto, of n nanosekonde van film beskikbaar om dit te bewys nie. En die klein gaatjie in die muur word vertel is glo deur die onderstel van die Boeing veroorsaak.

Anonymouse ·

Sjoe, en die voormalige president wat dieselfde gedoen het, is nog op vrye voet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.