Man vas oor Manchester-bomaanval

Foto: Danny Lawson/PA via AP

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid aanvaar vir die dodelike aanval op die Manchester Arena in Engeland Maandagaand waartydens 22 mense in ʼn bomontploffing dood is.

Die groep se semi-amptelike nuusagentskap, Amaq, het in ʼn verklaring gesê die ontploffings was die gevolg van ploftoestelle wat tussen die skare by die arena geplaas is. Die verklaring beweer egter 70 mense is beseer en 30 mense is in die aanval dood. Die Britse owerhede het bevestig dat 22 mense in die aanval dood is en 59 beseer.

Isis het gesê die aanval is uitgevoer om “god se geloof te wreek” en om nie-gelowiges te terroriseer en te vergeld vir hul aanvalle teen die lande van Moslems. Die terreurgroep het beloof om nog aanvalle uit te voer.

Foto: Danny Lawson/PA via AP

Intussen het die Britse polisie bevestig ʼn 23-jarige man is in verband met die bomaanval in hegtenis geneem. Die polisie het gesê ʼn tweede man is by die stad se Arndale-winkelsentrum aangekeer, maar “daar word nie tans vermoed dat hy met gisteraand se aanval verbind word nie”. Volgens berigte is die winkelsentrum Dinsdagoggend vlugtig ontruim.

Ian Hopkins, polisiehoof in Manchester, het bevestig die aanvaller is ook in die aanval dood. Die polisie het ook gesê hulle glo die selfmoordbomaanvaller se identiteit is aan hulle bekend, maar sy naam is nog nie bekendgemaak nie.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het omstreeks 22:30 deur die arena geruk kort nadat die Amerikaanse sangeres Ariana Grande opgetree het. Die skare was glo besig om die arena te verlaat toe dit gebeur het. Talle video’s is later op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe mense huilend en skreeuend uit die arena hardloop.

Europese Unie vlae hang halfmas buite die EU-hoofkantoor in Brussel Dinsdag, 23 Mei 2017. Foto: AP Photo/Virginia Mayo

Theresa May, die Britse premier, het die voorval vroeër as ʼn “afskuwelike terreuraanval” bestempel. Sy het gesê sy beplan om Manchester Dinsdag te besoek, terwyl Andy Burnham, die stad se burgemeester, beplan om 18:00 vanaand ʼn nagwaak vir die slagoffers te hou.

Die polisie het vroeër gesê van die oorledenes is kinders, waaronder Saffie Roussos, ʼn agtjarige meisie. Altesaam 12 van die beseerdes is kinders onder die ouderdom van 16 jaar.

“Dit is een van die ergste terreurvoorvalle wat ons al ooit in die Verenigde Koningryk gesien het,” het May gesê. “Hoewel dit nie die eerste keer is dat Manchester op so ’n manier moes ly nie, is dit die ergste aanval wat die stad al ooit ervaar het en die ergste wat al ooit die noordelike gedeelte van Engeland getref het.”

ʼn Pad naby die Manchester Arena in Manchester, Engeland is afgesper (23 Mei 2017). Foto: AP Photo/Rui Vieira

Talle leiers van reg oor die wêreld, insluitend Vladimir Putin, Rusland se president, Angela Merkel, Duitse kanselier, en Pous Franciskus het hul medelye met Brittanje betuig.

Pres. Donald Trump van die VSA het die mense agter die aanval “bose verloorders” genoem. “Ek sal hulle nie monsters noem nie, want hulle sal van daardie term hou,” het hy gesê. Hy het gesê so baie “jong, mooi mense” het hul lewens in die sinnelose aanval verloor.

Grande het ook Dinsdag op Twitter reageer en gesê sy is “gebreek” deur die nuus van die groot getal sterftes. “Ek kan met my hele hart sê, ek is so, so jammer. Ek het nie woorde nie,” het sy op Twitter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Europa was gewaarsku oor die Trojaanse perde wat hulle ingelaat het , maar toe was dit afgejak. Europa en die weste het hierdie mense vernietig vir eie gewin ,met al die mag tot hul beskikking, en hul hou nog steeds nie op nie. Die waarskuwing was duidelik deurgegee dat die haat en wrewel deur ‘n heilige oorlog op hul voorstoepe gaan uitbreek , maar dit was ook geignoreer. Nou is dit realiteit….

Justice ·

Hoe geestelik siek en lafhartig is dit van ISIS om nou ook kinders met trots te teiken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.