Man vas vir moord op Switserse toeris

Argieffoto van Phuket ter illustrasie. (Foto: Lillian SUWANRUMPHA / AFP)

ʼn Thailander is vas ná die liggaam van ʼn Switserse vrou die afgelope week naby ʼn waterval in ʼn strandoord in Phuket gevind is.

Die polisie in Phuket het Sondag tydens ʼn nuuskonferensie gesê Theerawut Tortip (27) is in hegtenis geneem en word aangekla van moord en roof.

Nicole Sauvain-Weisskopf, ’n Switserse regeringsamptenaar, se liggaam is Donderdag toegedraai in ʼn swart laken in die water tussen rotse op die eiland Phuket gevind. Haar selfoon, kortbroek en tekkies is naby dié plek opgespoor.

Owerhede is nog nie seker presies wat die oorsaak van haar dood is nie, en sê dit sal tydens die nadoodse ondersoek bevestig word. Theerawut, wat die nuuskonferensie telefonies bygewoon het, het gesê hy het 300 baht (ongeveer R131) by Sauvain-Weisskopf afgeneem, nadat hy haar verwurg het. “Ek wil graag jammer sê vir die toeris se familie en alle Thailanders smeek om my te vergewe.”

Volgens die polisie het die beskuldigde skuld beken nadat hy ondervra is. Volgens Kissana Phathanacharoen, nasionale polisiewoordvoerder van Phuket, is Theerawut in hegtenis geneem nadat sy motorfiets deur ʼn kringtelevisiestelsel in die omgewing waargeneem is. “Die motorfiets is ten tyde van Sauvain-Weisskopf se moord naby die waterval opgemerk.”

ʼn Amptenaar van die Switserse ambassade in Thailand het gevra vir ʼn spoedige afhandeling van die ondersoek na die misdaad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dit wil voorkom asof ‘n mens nêrens meer veilig is nie. Selfs nie op ‘n rustige Phuket-strand nie. Is die mensdom siek?

Flip ·

Die verskil is dat in Thailand gaan die skuldige in die tronk bly tot hy sterf (lewewnslank) as hy nie doodstraf opgelê word nie. Die beskuldigde het skuldig gepleit so die kanse is goed dat hulle kom die ewigheid gaan instuur met n inspuiting. Tensy die skuldige jonger as 18 is, dan sal hy ten minste 50 jaar in die tronk deurbring voordat hy weer vryheid sal geniet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.