Man vas wat glo missielonderdele vir Noord-Korea wou verkoop

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Die Australiese polisie het Sondag gesê hulle het ʼn man in hegtenis geneem wat na bewering besig was om missielkomponente en steenkool namens Noord-Korea op die swartmark te verkoop.

Dit is die eerste aanklagte nóg wat in Australië aanhangig gemaak is oor die verkoop van wapens van massa-vernietiging. Die man is aangekla ingevolge die wet op die voorkoming van die verspreiding van wapens van massa-vernietiging, en nog vier aanklagte ingevolge wetgewing wat die Verenigde Nasies (VN) en Australiese sanksies teen Noord-Korea afdwing.

Die man is deur die Australiese uitsaaikorporasie en ander media geïdentifiseer as Chan Han Choi (39) van Sydney, ʼn man wat al meer as 30 jaar in Australië woon maar van Koreaanse afkoms is. Hy is Saterdag in die Eastwood-woonbuurt in hegtenis geneem en sal na verwagting Sondag in die hof verskyn.

Die Australiese Federale Polisie (AFP) het gesê die man se optrede het vroeër vanjaar onder owerhede se aandag gekom. “Die man was ʼn lojale agent van Noord-Korea wat geglo het hy dien een of ander hoër patriotiese doel,” het Neil Gaughan, ʼn polisiewoordvoerder, aan verslaggewers gesê.

“Die saak is iets wat ons nog nie voorheen in Australië teëgekom het nie.”

Die polisie beweer die man het die verkoop van missielkomponente, insluitende sagteware vir leidingstelsels van ballistiese missiele, probeer bewerkstellig en het ook na bewering probeer om steenkool aan derdepartye in Indonesië en Viëtnam te verkoop. Gaughan het gesê die transaksies sou “tientalle miljoen dollars” gewees het indien dit suksesvol was.

Gaughan het gesê die man was in verbinding met Noord-Koreaanse beamptes, maar geen missielkomponente het dit tot in Australië gemaak nie. Hy het ook gesê daar is geen aanduiding dat beamptes in Indonesië of Viëtnam betrokke was in die gepoogde steenkoolverkope nie.

“Hierdie is basiese swartmark gebeure,” het Gaughan gesê. “Ons beweer dat al die aktiwiteite buitelands plaasgevind het en hierdie was net nog ʼn poging vir die man om goedere en dienste te verkoop as ʼn manier om ʼn inkomste vir die regering van Noord-Korea te genereer,” het hy gesê.

Noord-Korea het vanjaar gebuk gegaan onder ‘n nuwe ronde van strenger VN-sanksies nadat hy voortgegaan het met sy missiel- en kernprogramme in weerwil van internasionale druk. Spanning het aansienlik verhoog op die Koreaanse skiereiland in reaksie op die Noorde se ballistiese missieltoetse en sy sesde en kragtigste kerntoets nog, asook gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Korea en die VSA wat deur Noord-Korea as voorbereiding vir oorlog bestempel word.

Pyongyang het beweer dat sy jongste interkontinentale ballistiese missiel suksesvol getoets is om die hele binneland van die VSA te kan bereik. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, het Noord-Korea gemaan om sy wapentoetse te staak en om gesprekke oor sy missiel- en kernprogramme toe te laat. Noord-Korea toon egter min belangstelling in dié soort gesprekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mariné Lourens ·

Dagsê Kobus

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Casper Labuschagne ·

Ja Boet, wanneer dit by die terme vir enjinspares kom, dan moet ek nog altyd ‘n woordeboek naslae om te sien dat die vreemde term, ‘n “koppelaar” se vertaling in Afrikaans eintlik ‘n “clutch” is. As julle daarop aandring dat ons praat van onderdele is dit een ding, maar as ons praat van “spares” en “parts” dan weet absoluut almal wat dit is. Sê maar net…

Kobus ·

Afrikaans is my Moedertaal,my Erfenis en my Taal waar ek myself kan uitdruk…wat sag op die tong val en daar is geen Taal ter Wereld wat deur leenwoorde uit Engels,Nederlands ,Duits en selfs Khoi sy ontstaan gehad het…ek trots Afrikaans en vermy om my Taal te vermeng…nie dat ek soms ook in die strik trap…dan gryp ek ook die Woordeboek vir regstelling in toekoms…

humor ·

Maar wend dan n doelbewuste poging aan en kom dan reg met ons pragtige Afrikaanse taal.

John ·

Haai, die man met die bomme is die onderwerp… Hy sal nogal sleg voel as hy moet weet ons ignoreer hom… Net dalk kan sy missiele ons ook bykom…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.