Man verlam gelaat ná ramparty

Brett Greenhill en Meg Alexander (Foto: People)

Brett Greenhill en Meg Alexander (Foto: People)

“Ons is verpletter en het aanvanklik konstant gevra hoekom dit juis met ons moes gebeur. Ons was só gelukkig en het uitgesien na die groot dag. Maar vrae help nie, want alles gebeur met ʼn doel. Ons sal bid, want daar is krag in gebed.”

Só sê Meg Alexander (29) nadat haar verloofde, Brett Greenhill (39), verlede week ná ʼn fratsongeluk van die nek af verlam gelaat is.

Greenhill en Alexander het op 2 Desember ʼn gesamentlike ram- en henneparty in Naples in die Amerikaanse deelstaat Florida gehad toe die voorval plaasgevind het.

Greenhill was glo besig om sokker saam met sy vriende op die strand te speel, toe hy besluit om in die see te gaan duik.

Kelsey, ʼn verpleegster en Alexander se vriendin, het hom in die water sien dryf. “Sy het gevra: ‘Hoekom doen Brett dit? Hoekom dryf hy so?’ Ek het gesê hy is sommer net laf. Daarna het vriende wat saam met hom in die water was begin skree.

“Ons het almal in die water ingestorm. Kelsey het sy kop vasgehou nadat hulle hom omgedraai en uit die water gelig het en hy het gesê hy kan nie sy lyf beweeg nie. My ma het daarna 911 gebel. Voor die ambulans daar aangekom het, het ons hom op die sand laat lê. Hy het gesê ‘Meg, ek kan nie enigiets voel nie. Ek is so jammer en ek is so lief vir jou,” het sy aan People vertel.

Hy is na die Lee Memorial-hospitaal in Fort Myers geneem. Dokters het aan Alexander gesê Greenhill moes na alle waarskynlikheid sy kop teen ʼn sandbank gestamp het.

Brett Greenhill en Meg Alexander (Foto: People)

Brett Greenhill en Meg Alexander (Foto: People)

Hy het glo nou ʼn 1% kans om weer te beweeg.

“Ons klou aan die 1% kans want as enigiemand dit kan doen, is dit Brett. Hy is die hardwerkendste mens wat ek ken.”

Greenhill is tans in die waakeenheid en kan tydelik nie praat nie. “Ons moes ʼn nuwe manier van kommunikeer kry. Ek gaan deur die alfabet en hy sê vir my by watter letter ek moet stop, waarna ek die woorde uitskryf. Die eerste ding wat hy vir my gesê het, is hy is lief vir my, en daarna het hy gevra dat ek geduldig moet wees.”

Dokters het egter gesê hy sal binnekort sy vermoë om te praat herwin.

Die paartjie het hulle intussen tot die skarefinansierings-werbwerf GoFundMe gewend om geld vir mediese onkoste in te samel aangesien Greenhill se mediese fonds reeds uitgeput is.

“Ek weet dit gaan ʼn opdraande stryd wees, maar ek gaan elke tree langs hom staan. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel mense ons wil ondersteun.”

Vir meer inligting, besoek die twee se GoFundMe-webwerf.

Bron: People, Fox

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jack Russl ·

Media lok ‘n mens lekker uit met die opskrifte.

Hierdie storie het niks met die ramparty te doen nie. Hy het ingeduik sonder om seker te wees dat dit veilig is. Dit kan op enige plek gebeur.

Landi Slatter ·

Dagsê Jack Russl

Dankie vir jou terugvoer! Met verwysing na die sin “Greenhill en Alexander het op 2 Desember ʼn gesamentlike ram- en henneparty in Naples in die Amerikaanse deelstaat Florida gehad toe die voorval plaasgevind het” voel ons nie dat die kop misleidend was nie omdat die man wel verlam gelaat is ná die ramparty.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Danielle ·

Wat maak dit saak? Het jy gewag vir “juicy details”. Skaam jou, dis verskriklik erg en al kommentaar wat jy kan lewer is om oor die opskrif te kla?

CQ ·

Dankie Jack Russl,
1ste ding wat ek gedink het na ek die opskrif lees was dat die klomp dronk manne weer iets doms aangevang het….
Ek lees die artikel en ek voel so so jammer vir hierdie mense. Dit wys net hoe vinnig kan iets skeefloop. Hoe vinnig kan n ongeluk gebeur.

Jack Russl ·

Ek is bly ek is nie die enigste een met die siening nie. Die hoofrede vir sy besering is tog nie kattekwaad wat aangejaag is tydens ‘n ramparty nie, maar die feit dat hy in die see geduik het. So ‘n meer gepaste opskrif sal meer in die lyn wees “Man verlam na kopstamp teen sandbank”. Vergelyk maar ander berigte, daar word net gesê dat persone verdrink het ens, en nie uitgebrei oor hoekom die persone daar was nie.

Ek het glad nie gese dat dit nie vreeslik moet wees vir die persone om dit deur te maak nie.

mariki ·

Ek stem 100% saam. Die opskrif is INDERDAAD misleidend, seker maar om ons te prikkel om die res te lees… Die konneksie met ramparty maak dit mos nou baie meer opspraakwekkend …. Ek haat dit as joernaliste dit doen.

Olga ·

ja die opskrif is nie gepas nie, asof MM wil se dis die ramparty se skuld

Han ·

Olga, regtig, gaan dit nou oor die “ontoepaslike opskrif”, of die man wat verlam is? Mense wat so derms uitryg oor iets wat regtig nie van belang is nie!

Gerda ·

Hou moed, ek ken iemand wat self so iets oor gekom het en kan vandag weer loop. Hy moed net glo en bid en hy sal weer loop. Sterkte julle

m ·

Baie sterkte en ek hoop jy sal gou beter word. Bly ma net Glo dat alles sal regkom.

Liza ·

Sterkte daar, glo hoop en vertrou dat hy sal regkom, sal vir hom bid……

Willie ·

Jack, ek stem ook 100% met jou saam. Dis pure sensasie om die artikel so uit te beeld.

Wium ·

Net ‘n vraag, hoekom moet ons op ‘n afrikaanse nuus forum met nuus van oorsee tevrede wees? Is daar niks meer nuuswaardig in onse eie land nie? Die afgelope tyd is hierdie die hoeveelste brokkie wat eerder maar nader aan sy oorsprong kon gebly het

Realiteit ·

Presies. Waarom moet ons enigsins belangstel oor hierdie storie al die pad uit Florida????

Wees wakker ·

Wium en Realiteit, kom ons leer net hieruit dat jy versigtig moet wees om sommer net in te duik sonder om eers ‘n inspeksie uit te voer. As kinders het ons gereeld in kuile van spruite geswem. My pa het telkemale gewaarsku om eers in te gaan en vas te stel of dit veilig is. Afgesien van sandbanke kan daar ook draad wees waarin jy vasgevang kan word en, soos my pa dit aan my verstand gebring het, sal jy versuip!! Sou daar niks anders wees om uit hierdie oorsese berig te leer dan is hierdie een hartseer wat gebeur het alreeds die moeite werd.

Pierre ·

Mensig maar party van julle kan dam lekker kla oor bollie. Dankie MM vir julle gratis nuus. Geniet dit in die buite land.

CQ ·

Want Wium en Realiteit…. om Afrikaans te wees beteken nie ons bly onder n klip nie. Om Trots Afrikaans te wees beteken ook nie jy gaan deur die lewe met oogklappe aan nie!
Dankie MM vir julle GRATIS nuus wat ons kan lees sonder om (soos ander Netwerke) te moet regesreer…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.