Man vermoor glo vrou voor moordtog begin

Kevin Janson Neal op 31 Januarie 2017. Foto: Tehama County Sheriff via AP

Ouers was Dinsdag besig om hul kinders by Rancho Tehama Elementary School, ʼn klein gebou in Corning die noorde van Kalifornië af te laai, toe hulle die eerste skoot gehoor het.

Byna onmiddellik het nog twee skote geklap. Die skoolsekretaresse het ʼn vinnige besluit geneem: Sluit die skool. Sy en ander personeellede het vinnig ongeveer 100 jong leerders, vier onderwysers en ouers van die vierkant buite die skool in die gebou ingehaas, het Rick Fitzpatrick, superintendent van die plaaslike skooldistrik, vertel.

Kinders was nog besig om in die gebou in te hardloop toe die skieter se wit bakkie in die straat afgejaag gekom en teen die skool se geslote hek gebots het. Die man, wat later as Kevin J. Neal geïdentifiseer is, het uitgespring met ʼn semi-outomatiese geweer in sy hande en ʼn baadjie met ekstra ammunisie daarin.

Binne tien sekondes nadat die laaste slot van die skool gesluit is, het Neal buite in die vierkant gestaan waar kinders oomblikke vantevore gespeel het. Binne het kinders, personeel en ouers onder lessenaars en in kantore geskuil. Buite het Neal sy geweer gelig en begin skiet.

Volgens die polisie het Neal ure vantevore sy vrou vermoor en haar liggaam weggesteek voordat hy op sy moordtog deur die gemeenskap sowat 160 km noord van Sacramento gegaan het. Neal het vir ʼn skrikwekkende ses minute lank skote op die skoolgebou losgebrand met koeëls wat deur vensters en houtmure gedring het.

Ondersoekers kyk na die bakkie wat tydens die skietvoorval gebruik is (14 November 2017). Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Een koeël het ʼn kind getref, terwyl ander mense deur gebreekte glas beseer is. Phil Johnston, ʼn plaaslike polisiewoordvoerder, het gesê Neal het “uiteindelik gefrustreerd geraak” en die skoolperseel verlaat.

Die sekretaresse se besluit om almal binne die gebou toe te sluit, het uiteindelik gehelp dat die skrikwekkende gebeure wat Dinsdag in die klein dorpie afgespeel het, nie ʼn nóg meer tragiese nadraai gehad het nie.

Volgens die polisie het Neal verder gery na ʼn klein gemeenskap by die Rancho Tehama Reserve en het hy op almal geskiet wat sy pad gekruis het. Neal het vier mense tydens sy moordtog doodgeskiet en verskeie ander is beseer. Volgens die polisie het hy lukraak mense geteiken, dié met wie hy nie oor die weg gekom het nie, asook totale vreemdelinge.

Die moordtog het tot ʼn einde gekom ongeveer 25 minute nadat die eerste noodoproep aan 911 gemaak is, toe polisiebeamptes teen Neal se motor gebots en hom in ʼn skietgeveg doodgeskiet het.

Een van die sewe misdaadtonele van die massa-skietery (14 November 2017). Foto: Jim Schultz/The Record Searchlight via AP

Owerhede en mense wat Neal geken het, het gesê hy het ʼn wisselvallige en soms gewelddadige verlede. Sy familielede was al vir ʼn geruime tyd bekommerd oor sy geestestoestand en hy het al telkemale vantevore met die gereg gebots.

Een van die mense wat gedurende Dinsdag se skietery gesterf het, was ʼn buurman vir wie Neal na bewering in Januarie met ʼn gevaarlike wapen aangerand het. Neal was uit op borgtog na aanleiding van die aanranding.

Johnston het gesê beamptes het op twee semi-outomatiese gewere beslag gelê wat hulle beweer Neal onwettig in sy huis vervaardig het, hoewel dit nie duidelik is of Neal die vuurwapens gemaak het of net bestaande wapens aangepas het nie.

Neal was verbied om enige vuurwapens te besit, te koop of by hom te hê ná die beweerde aanranding. Behalwe vir die aanranding was Neal ook aangekla van ander beweerde oortredings, onder meer die afvuur van ʼn vuurwapen op ʼn growwe nalatige wyse.

Phil Johnston, ʼn plaaslike polisiewoordvoerder, praat met verslaggewers buite die Rancho Tehama Elementary School (14 November 2017). Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Nadat die polisie Neal se huis deursoek het, het hulle op sy vrou se liggaam afgekom wat onder die vloer van die egpaar se huis versteek is. Polisiebeamptes vermoed Neal het haar Maandag verskeie kere geskiet.

Tydens die ondersoek het bure aan die polisie gesê hulle glo daar was “ʼn voorval van huishoudelike geweld” Maandag by die egpaar se huis, maar die voorval is nie by die polisie aangemeld nie omdat dit “ʼn algemene ding met die egpaar was”.

Sheridan Orr, Neal se suster, het gesê sy familie was al jare lank bekommerd oor sy geestestoestand en wou gehad het hy moet behandeling daarvoor kry. “Hy het ʼn baie onvoorspelbare en onbeheerste humeur gehad, wat dit moeilik gemaak het om met hom oor die weg te kom. Dit het jare lank skade aan ons familiebande veroorsaak,” het sy gesê.

Neal het egter geweier om iemand te gaan sien en is daarom nooit amptelik gediagnoseer nie.

Orr het gesê sy het maande laas met Neal gepraat en het hom min gesien, maar wanneer hulle saam was, was dit skrikwekkend om hom so buite beheer te sien. “Hy moes nooit vuurwapens gehad het nie en hy moes sielkundige behandeling ontvang het,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ja nee ·

Ja nee daai foto sê alles, wat ek egter nie verstaan is hoe so ou wat definitief aanranding of iets ernstigs doen sommer net uitkom op borg. Ek wonder regtig, wie help hom sulke tye, die familie of die staat…… of dalk mense regte wat gratis regshulp gee. Sulke mense hoort in tronke / speisale sentrums. Wat ek egter wens is dat ons hul Polisie kon hê, kyk hul sal al die verkragtings en moorde stopsit. Hul vat nie nonsens nie, hul vat ‘n krimineel uit!!!!

Snip ·

Spel foutjie, buurman vir, nie vier nie, ek sê maar net hoor.

Dalene de Vente ·

Dagsê Snip

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Dalene
nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.