Man vernietig duur artefakte ‘uit woede’ vir vriendin

Die Dallas Museum of Art in Texas. (Foto: Dallas Museum of Art/Facebook)

’n Man was glo woedend vir sy vriendin – toe breek hy by die Dallas Museum of Art in Texas in en rig meer as $5 miljoen (meer as R77 miljoen) se skade aan artefakte en ander eiendom aan.

Daar word egter nou verwag dat die werklike skade aan die museum “ ’n fraksie van die oorspronklike $5 miljoen skatting gaan beloop”.

NBC News berig die 21-jarige Brian Hernandez is Woensdagaand in hegtenis geneem nadat hy omstreeks 21:40 die vensters van die Dallas Museum of Art met ’n metaalstoel stukkend geslaan en só toegang tot die museum verkry het.

Daar kan in beeldmateriaal van die voorval gesien word hoe Hernandez van vertrek tot vertrek stap en vertoonkaste en items binne die vertoonkaste flenters slaan. Die beskadigde items sluit in ’n sesde-eeuse Griekse amfora – ’n tipe keramiekvaas – en ’n pot wat uit 450 v.C. dateer. Dié twee items is saam vir sowat $5 miljoen gewaardeer.

’n Standbeeld van Kylix Heracles en Nemean Lion, ter waarde van sowat $100,000 (sowat R1,5 miljoen), is ook flenters geslaan.

Hernandez het ook ’n handreinigerstaander gebruik om ’n vertoonkas met ’n standbeeld van die “Batah Kuhuh Alligator Gar Fish” te breek. Hernandez het daarna dié standbeeld opgetel en op die vloer gegooi. Die standbeeld, ter waarde van $10 000, het in stukke gebreek.

Artefakte by die Dallas Museum of Art. Dié foto is bloot ter illustrasie van die tipe artefakte wat by die museum uitgestal word. (Foto: Dallas Museum of Art/Facebook)

“Drie Griekse keramiekhouers is ernstig beskadig benewens een inheemse Amerikaanse kontemporêre keramiekstuk,” het die museumdirekteur Agustin Arteaga Donderdag in ’n verklaring gesê.

“Daarbenewens kon verskeie ander kleiner stukke wat in dieselfde glaskas deurgeloop het, geringe skade opgedoen het.

“Die items in die vertoonkaste wat vernietig is, is skaars antieke artefakte wat uiters kosbaar en uniek is,” lui die polisie se verklaring.

Hernandez het tydens sy plundertog ook ’n skootrekenaar, ’n foon, ’n skerm, twee hout vertoontekens en vier pleksiglas vertoonkaste gebreek.

‘Dit alles uit woede’

The Dallas Morning News berig ’n sekerheidswag het Hernandez die betrokke aand in die gang van die museum betrap nadat ’n bewegingsensor afgegaan het.

Hernandez het glo toe aan die sekerheidswag gesê “hy het kwaad geword vir sy meisie, so toe breek hy in en begin eiendom vernietig”.

Volgens die polisie het Hernandez in ’n stadium self 911 van binne die museum gebel voordat die polisie hulle om 10:10 na die museum gehaas het. Hernandez is kort daarna in hegtenis geneem en in die stadium nog in aanhouding.

Artefakte by die Dallas Museum of Art. Dié foto is bloot ter illustrasie van die tipe artefakte wat by die museum uitgestal word. (Foto: Dallas Museum of Art/Facebook)

“Terwyl ons verpletter is deur hierdie voorval, is ons dankbaar dat niemand beseer is nie,” het die museum sedert die voorval gesê. “Die veiligheid van ons personeel en besoekers, tesame met die versorging en beskerming van die kuns in ons rentmeesterskap, is ons hoogste prioriteite.”

Die voorwerpe wat Woensdagaand deur Hernandez vernietig is, is onder meer as 24 000 werke in die Dallas Museum of Art se kruiskulturele versameling, wat oor 5 000 jaar strek.

Mary McDermott Cook, ’n lid van die museum se raad wie se oorlede ouers duisende kunswerke geskenk of aan die museum beskikbaar gestel het, sê sy was “siek” toe sy Donderdagoggend ’n oproep van Arteaga ontvang om haar van die voorval in kennis te stel.

“Ek voel alles het mal geword.

“Maar wat ek ook gesê het, is: ‘As ons eerlik is, is dit net goed. Geen persoon is beseer nie. En ons het die tegnologie en die kundigheid om stukkende goed weer aanmekaar te sit.’ En dankie tog daarvoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eden ·

Die derde wêreld mense is nou oral besig om te breek en brand.

annie ·

… en die regter moet dié verskoning glo? Dit klink of hy iewers elders ‘n moederlandjie het, pos hom per ongeluk terug huistoe per spoedpos en op sy eie onkoste.

hpven ·

Ons sien dit daagliks in Suid Afrika. Dieselfde mentaliteit. Verontrief en vernietig ander se besittings in ‘n woedevertoon wat eintlik gemik is teen die regering.

Lollapop ·

Wat gaan met die nasie aan, as hul nie afbreek moor hul, het die wereld nou mal geword

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.