Man vorm vriendskap met vrou wat hom verlam laat

David Platillero neem sy eerste treë na die ongeluk (Foto: CBS News)

ʼn Ongewone vriendskap het ontstaan tussen ʼn vrou en die man wat sy verlam gelaat het nadat sy hom van sy fiets af gery het.

David Platillero (24) het met sy fiets van sy musiekklas by die Blackbird Academy in Nashville, Tennessee, gery toe hy in ʼn ongeluk was wat sy lewe handomkeer verander het.

CBS News berig Frye Markowski (23) het in April 2016 ʼn rooi verkeerslig verontagsaam en Platillero getref. Platillero se kop het die motor se windskerm getref voordat hy die lug in geslinger is en etlike meters verder op die sypaadjie te lande gekom het.

“Ek onthou niks daarvan nie,” het hy aan CBS gesê. Platillero het maande later ʼn onverwagse selfoonboodskap gekry terwyl hy steeds in die hospitaal en besig met rehabilitasie was.

“Ek het my siel verloor ná die ongeluk,” het die boodskap gelees, “ek wil hê jy moet weet dat daar nie ʼn dag verbygaan wat ek nie oor jou pyn huil nie.”

Platillero het gesê hy het dadelik geweet wie die boodskap gestuur het, maar dat hy nie vir haar kwaad was nie.

“Van wat ek gehoor het, was sy baie ontsteld oor wat gebeur het. Sy het gehuil en ek wou nie hê haar lewe moes verwoes wees as gevolg van die ongeluk nie.”

David Platillero en Freya Markowski (Foto: CBS News)

Platillero het ʼn video van homself vir haar gestuur waar hy met ʼn harnas oefen om weer te probeer loop. Vandaar het Markowski en Platillero gereeld gesels.

Platillero het ook sy ouers oorreed om nie aanklagte teen Markowski aanhangig te maak nie. Omtrent ’n jaar ná die ongeluk het Platillero en Markowski besluit om mekaar vir koffie te ontmoet.

“Ons het mekaar vir seker 30 sekondes ʼn drukkie gegee sonder om ʼn woord te sê,” het Platillero gesê. Markowski het toe vir Platillero gesê hoe jammer sy is en Platillero het haar gerusgestel dat hy haar vergewe.

Platillero is steeds in kontak met Markowski en hou haar op datum van sy vordering. “Al die gevoel onder my heupe is nie weg nie, maar ek dink nie dit gaan ooit weer dieselfde wees nie. Ek word sterker en ek werk elke liewe dag daaraan. Ek is baie dankbaar vir alles wat ek het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

paula ·

As ons almal maar net daardie vergewensgesindheid aan hê oor enige iets wat met ons gebeur teenoor ons skuldenaars sal hierdie wereld so ‘n wonderlike plek wees.

LS ·

Wat ‘n wonderlike mens !!!
Sterkte, hoop jy herstel volkome.

ADRI ·

Dis die mooiste storie ooit…. JY is n wonderlike man om haar te vergewe en sy omdat sy n gewete het en jou gekontak het… Mag dit goed gaan met jul altwee en hoop jul vind een dag die geluk wat jul altwee toe kom… God bless…..

Bianca ·

Stekte daar, Julle is goeie voorbeeld van vergifnis.Die lewe is kort en verander in n oogwink en n mens moet aanbeweeg. moenie die lewe of jou geliefdes afskeep nie. Mag dit meer as net vriendskap word<3<3<3

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.