Man wat inderhaas jawoord vra toe nié terminaal

Jack en Emma Kane (Foto: Facebook via Emma Kane)

ʼn Man van Teesside in die noorde van Engeland wat inderhaas in die hospitaal met sy meisie in die huwelik bevestig is ná ʼn diagnose van terminale kanker, het tydens die troue gesê die diagnose was verkeerd.

Jack Kane het aan die plaaslike media in Teesside vertel dat dokters hom enkele weke gegee het om te leef nadat ʼn gewas op sy ruggraat verkeerdelik as kanker gediagnoseer is.

Kane het ná die diagnose besluit om sy meisie van drie jaar, Emma, die jawoord te vra omdat hulle “geen rede gesien het om nié man en vrou te wees nie”.

Kane het vertel sy gesondheid het oor ʼn kort tydperk drasties agteruit gegaan. Hy het aanvanklik gesukkel om te loop en erge rugpyn ervaar. Hy is kort voor die diagnose verlam gelaat en toe is die kanker gediagnoseer.

“Die hospitaalpersoneel het my uit die rolstoel gehelp sodat ek op my knie kon gaan om Emma te vra om met my te trou,” het hy gesê.

ʼn Dokter van die James Cook- akademiese hospitaal in Middlesborough het Kane egter drie dae voor sy troue ingelig dat hy nié terminale kanker het nie, maar eerder ʼn seldsame neurologiese toestand wat bekend staan as neuromyelitis optica (NMO). Dié toestand word gekenmerk deur inflammasie en demiëlinering van die optiese senuwee.

Die paartjie het egter besluit om met die troue, wat in Oktober vanjaar in hul tuisdorp plaasgevind het, voort te gaan en dié nuus voor hul 130 gaste bekend te maak.

Jack en Emma Kane (Foto: Facebook via Emma Kane)

“Ons het onsself voorberei om van mekaar afskeid te neem en vrede te maak daarmee dat hy moontlik binnekort sou sterf. Dit was bisar. Ons harte was stukkend. Ons weet nog altyd dat ons die res van ons lewe wil saam wees en om te hoor dat jy net nog enkele weke saam het, is aaklig. Ons het selfs aan ons emmerlysie begin werk. Daarom het ons ook besluit om te trou omdat dit een van ons langtermynplanne was. Dit was bittersoet toe ons hoor dat hy nié terminaal siek is nie,” het Emma vertel.

Die egpaar sê dié “wonderwerk” is ʼn tweede kans op lewe. “Ons het nog altyd gebid dat ʼn wonderwerk sou gebeur, maar ons wou nie te veel hoop hê nie. Daar is ander negatiewe dinge wat met sy siektetoestand gepaard gaan, maar niks daarvan maak saak terwyl hy hier is nie.”

Kane sal waarskynlik vir altyd in ʼn rolstoel gekluister wees. Daar is ook ʼn moontlikheid dat hy sy sig in die toekoms kan verloor.

Hy ontvang tans rehabilitasie en sal volgens dokters moontlik einde November kan huis toe gaan.

Bron: Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.