Man wat Macron klap dalk tronk toe

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

Die omstander wat pres. Emmanuel Macron van Frankryk vroeër vandeesweek tydens ʼn besoek aan die ooste van dié land geklap het, kan moontlik tot drie jaar tronkstraf opgelê word vir die aanranding van ʼn openbare figuur.

Die 28-jarige man is sedert Dinsdag in aanhouding en sal na verwagting Donderdag vir die eerste keer voor ʼn landdros in die Franse dorp Valence verskyn.

Die man het sedert sy inhegtenisneming aan ondersoekbeamptes gesê hy het “sonder om te dink” opgetree toe hy die Franse president deur die gesig geklap het.

Die aanklag teen die beskuldigde behels ʼn maksimum van drie jaar tronkstraf en ʼn boete van €45 000 (byna R750 00) hoewel die hof in ag sal neem dat hy geen misdaadrekord het nie en berou toon.

“Hy beweer dat hy instinktief en ‘sonder om te dink’ opgetree het om sy ergernis uit te spreek,” lui ʼn verklaring deur die kantoor van die plaaslike aanklaer.

Die beskuldigde, wat deur sy vriende as skaam en rustig beskryf word, het aan ondersoekers gesê dat hy simpatie met die sogenaamde Geelbaadjies het en dat sy politieke sienings na regs/verregs neig, hoewel hy hom met geen party vereenselwig nie.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het in die dorpie Tain-l’Hermitage in die Drome-streek plaasgevind. Macron is tans besig met ʼn landwye toer vir die volgende twee maande ten einde kiesers persoonlik te ontmoet in aanloop tot volgende jaar se verkiesing.

Die beskuldigde se vriend, Arthur C, wat die klap afgeneem het, is ook Dinsdag in hegtenis geneem, maar sal volgens die aanklaer in die saak nie aangekla word nie.

Macron het intussen die voorval as ʼn “geïsoleerde gebeurtenis” bestempel en belowe om voort te gaan met sy toer ondanks kommer oor sy persoonlike veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Ek sou dit graag in SA met ‘n paar “leiers” wou doen, maar helaas, hulle word so omring met SAPS lede, wat terloops met my geld betaal word, dat ek nie naby sal kan kom nie!

Anthony

Ek is seker hier is n paar van ons wat van ons eie politieke “leiers” so klap wil gee…

Hendrik

Dit was ‘n ligte klap daardie.

Tipper

As dit n burger van Iran was dan sou daar (geen)
sprake van tronk wees nie,right!,korrek.

melaney

Vergeet die tronk. Gee die ou ‘n ‘bells’ en leer hom hoe om regtig te klap.