Man wéér tronk toe jare ná gru-moord op 2-jarige

Jon Venables in 1993 (Foto: Merseyside polisie)

Jon Venables, die Britse man wat in 1993 op 10-jarige ouderdom skuldig bevind is vir die ontvoering en moord van ʼn tweejarige seun, is vandeesweek vir ʼn derde keer tot tronkstraf gevonnis – dié keer vir die besit van kindermishandelingsfoto’s.

Venables (36) is vandeesweek in die Old Bailey in Londen daaraan skuldig bevind dat hy “afskuwelike” foto’s van kinders tussen die ouderdom van ses en 13 jaar oud in sy besit gehad het.

Die owerhede wat in November verlede jaar op sy persoonlike rekenaar beslag gelê het, het gesê daar is ook talle foto’s van babas op sy rekenaar gevind.

Regter Justice Edis het Venables as “manipulerend, siek en oneerlik” beskryf.

Volgens hofstukke was daar altesaam 392 kategorie-A-foto’s – wat beskou word as die ernstigste misdaad – wat hy in sy besit gehad het, 140 kategorie-B-foto’s en 630 kategorie-C-foto’s. Al dié foto’s het kindermishandeling of pedofilie uitgebeeld.

Edis het Venables tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het tydens die vonnisoplegging gesê daar is beduidende bewyse van sy planne om weer ʼn minderjarige seer te maak. Dié vonnis volg nadat hy in 2010 tot twee jaar tronkstraf gevonnis is nadat hy erken het dat hy “onsedelike foto’s” van kinders van die internet afgelaai en versprei het.

Venables en Robert Thompson is in 1993 skuldig bevind op die ontvoering en moord van die tweejarige James Bulger van Liverpool. Venables en Thompson is as Brittanje se jongste moordenaars in 250 jaar bestempel nadat hulle tot agt jaar tronkstraf gevonnis is.

Volgens hofstukke het die twee Bulger vanuit ʼn winkelsentrum ontvoer. Hulle het hom na ʼn spoorweg geneem waar hulle hom mishandel, seksueel aangerand en toe vermoor het. Venables en Thompson het onder meer verf in Bulger se oë gegooi, hom met klippe gekap, hom gestenig en hom toe op die treinspoor gelos sodat ʼn trein oor sy liggaam kon ry. Bulger se liggaam is twee dae later opgespoor.

Denise Fergus, Bulger se ma, het vandeesweek aan die BBC gesê die vonnis is “gans te kort”. “Drie jaar gevangenisstraf is heeltemal te min omdat hy ʼn patroon van hierdie tipe gedrag toon. Daar moet geen verdere pogings wees om sy gedrag te verdoesel nie. As hy op borgtog vrygelaat word, moet die polisie ʼn noukeurige oog op hom hou,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nettie ·

Sjoe! Nee wat, daar moes iets ernstig verkeerd gegaan het in dié “man” se jong kinderlewe (voor die ouderdom van 10, toe hy die eerste keer ‘n geweldsmisdaad gepleeg het). Geen kind word boos of misdadig gebore nie; hulle word so gemáák deur mense in hul onmiddellike omgewings. Dit is jammer dat Jon nie die nodige sielkundige berading en hulp gekry het om hom van sy gewelddadige neigings te genees nie.

MissDemeanor ·

Kan wees dat sy gruwelike neigings geneties is, of agv van n fout in sy brein. Nieteenstaande, die man is duidelik n gevaar vir ander. Hul moet hom permanent weghou van ander mense.

Tammy ·

Die Britte kan hierdie geld wat op Jon Venables spandeer word, baie beter gebruik as hulle net eenvoudig van hom ontslae raak. Hy het n misdadiger geword alreeds toe hy nog n baie jong kind was. Dis werklik n skande om vir n moontlike 70 jaar of meer met so n skurk opgeskeep te sit. Dit klink nogal baie na die tendens wat ons in Suid Afrika het waar die moordenaars heeltemal te lig gestraf word. Ek sien darem dat die verkragters deesdae baie swaarder gestraf word en ek het respek vir daardie swaarder straf.

Rol ·

Hoe moes hulle van ‘n 10-jarige ontslae geraak het? Dit gaan voorwaar ‘n donker dag wees as kinders ter dood veroordeel word of lewensvonnisse opdoen.

Amelia ·

Nettie dieselfde het deur my kop gegaan. Hoe word n mens so? Party wat mishandel was, is 100% teen sulke gedrag en dan kry jy die wat dit dan weer aan ander doen. Dit bly n raaisel.

Ada ·

Party word so gebore. En ander word so weens huislike/skool/ect omstandighede.

Dit bly egter ‘n Afwyking – hierdie man moet in ‘n inrigting geplaas word voor hy nog skade aanrig.

E.K. die eerste ·

Jinne ek het NOU die dag net op Crimes that Shook Britain (program op DStv) van sy eerste moord gesien en wraggies hy was alweer doenig. Eks tem saam dat drie jaar mos belaglik is. Ek is skoon naar.

PJC ·

Dit is duidelik dat hierdie ou nie rehabiliteerbaar is nie en ń reuse gevaar vir die samelewing inhou. Hy behoort dus vir die res van sy lewe uit die samelewing verwyder te word deur hom tot aan die einde van sy dae toe te sluit.

tamboti ·

Die “invloed” wat in die man se kinderlewe hom verderf het was heel waarskynlik televisie geweld en rekenaar speletjies, dalk niks met ouers of opvoeding te doen nie. Hy is egter nie geestelik versteurd nie maar is toerekenings vatbaar, die hoogs liberalistiese regstelsel waarborg nog ‘n kindermoord of vele seksuele teisterings, aanrandings en verkragtings!
Al waarvoor die man goed genoeg is, is ‘n proefkonyn vir mediese navorsing. (In ‘n sel natuurlik)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.