Man wis gesin uit, pleeg selfmoord

Julie Edwards en haar drie kinders, Jacob, Paxton en Brinley. (Foto: Facebook)

Julie Edwards en haar drie kinders, Jacob, Paxton en Brinley. (Foto: Facebook)

Polisiebeamptes het Maandag die liggame van ʼn man, sy vrou en hul drie kinders by hul huis in Prices Corner in Delaware in die VSA aangetref.

Volgens polisiebeamptes het Matthew Edwards (42) sy vrou, Julie (41), en hul drie kinders, onderskeidelik ses, vier en drie jaar oud, doodgeskiet voordat hy homself ook om die lewe gebring het.

Wilfredo Rivera (60), die Edwards-gesin se buurman, het Dinsdag gesê hy het die pa en sy kinders Sondag buite hul huis gesien. Die kinders het met hul trapfietse gespeel en Edwards was besig om kos te kook en het in en uit die huis beweeg.

“Hy het vir my gesê hy het huweliksprobleme,” het Rivera gesê. Volgens Rivera het die gesin langer as ʼn dekade langs hulle gewoon. Edwards het vroeër sy werk verloor, maar later weer werk gekry.

“Hy het soos ʼn doodgewone ou gelyk. Hy sou buite met sy kinders speel.”

Alisha Garvin, ʼn buurvrou van die Edwards-gesin, het aan CBC Philadelphia gesê sy het Maandag omstreeks 12:00 die klapgeluide gehoor, maar eers niks daarvan gedink nie.

“Dit het so ‘pop, pop, pop’, soos klappers, geklink. Ek het niks daarvan gedink nie, want Onafhanklikheidsdag was net ʼn paar dae gelede,” het Garvin gesê. “Ek het regtig nie eens twee keer daaroor gedink nie.”

Volgens Garvin is ʼn kind, wat veronderstel was om die nag by die Edwards-woning deur te bring, omstreeks 19:30 by die huis afgelaai. “ʼn Buurvrou het gesê sy het gesien hoe die kind uit ʼn rooi voertuig klim, in die huis gaan en weer vinnig uitkom. Die kind moes hulle lyke daar aangetref het, aangesien daar niemand anders in die omtrek was nie.”

Brian Covenko, wat oorkant die pad van die Edwards-woning bly, het aan The News Journal gesê hy het op Gedenkdag die laaste keer met Edwards gepraat.

“Ek is geskok. Daar was geen manier om hiervoor voor te berei nie,” het hy gesê. “Ons kinders het saamgespeel. Ons het by hulle gebraai. Elke keer dat ons daar was, het hy met sy kinders gespeel. Ek weet nie wat binne die huis aangegaan het nie, maar ek weet hy was gereeld saam met sy kinders buite.”

Julie Edwards se broer, William Burton, het in ʼn hartroerende inskrywing getreur oor sy suster en haar drie kinders. “Die hemel het vanaand vier engele ryker geword. My suster Julie en broerskinders Jacob, Paxton en Brinley. My hart is gebreek en ek is ongelooflik kwaad. Trek asseblief jou geliefdes nader, hou hulle styf vas en geniet die oomblik, jy weet nie hoeveel meer daar gaan wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Piet Pompies ·

Asof ons nie genoeg slegte nuus in SA ervaar is die media so gegroef in die verskaffing van slegte nuus dat slegte nuus nou al opgesoek word in die buiteland om dit plaaslik te publiseer.

WN ·

@PietPompies, dis wereldnuus, moenie kla dat jy dit in SA lees nie. Dan moet die res van die wereld ook so voel om van Plaasmoorde te hoor.

JAN ·

Gesinsgeweld is in SA die hoogste Afrikaners die meeste. Inniebos het so ewe ń paneelbespreking daaroor gehad. Oorsake by die pa gevind wat soos feminisme klink Hoekom doen seuns veral en ouers dit? Wat is die stresfaktore?
Absoluut geen twyfel nie dat dit die einde van die pad van ń DISFUNKSIONELE HUWELIK is.
Wanneer die moderne vrou haar ontsaglike mag misbruik en konflik veroorsaak. Skitzofreniese magstryd in die gesin oorsaak van rekord egskeidings en maatskaplike verval gemeenskap disintegrasie.
Reuse onderwerp.

Erika ·

Genade, so dit is maar altyd die vrou se eie skuld as sy vermoor, aangerand of verkrag word. Gister is ek op n ander forum daarvan beskuldig dat ek my huishouding probeer regeer en domineer aangesien ek voltyds werk om my man te help onkostes betaal. The more things change, the more they stay the same.

Se ook ·

Aggenee Jan jy kan nie so se net omrede jy of iemand na aan jou dit ervaar het nie. Die man het nie werk gehad nie weet jy hoeveel bekommernis veroorsaak dit en spanning tussen man en vrou en nog die kinders ook. Kom ons bid liewer vir ieder en ‘n elk wat deur sulke omstandighede worstel. Daar is baie om ons wat sterk probeer wees en baie ‘n front voorhou dat finansies hul nie druk nie of dat dit spanning veroorsaak nie en dit is mense soos jy waarom hul opkrop en op ‘n dag geen ander uitkoms sien nie. Weet waarvan ek praat.

Né? ·

“Moderne vrou” nogal? Jy klink soos een van daai wat lief is daarvoor om te sê ‘n vrou moet haar “plek” ken… Glo dit of nie maar daar is baie huishoudings waar ‘n man en vrou nie in kompetisie met mekaar is nie en uitmekaar kan gaan sonder om ‘n hele gesin uit te wis. Blame shifting is maar maklik .

JAN ·

Erica dink mooi. Die vrou bepaal die lot van haar gesin en dus volk. Bybel beskryf die Ester, Maria M Miriam ens. Maar OOK ISEBEL got van Baäl.
Hoe Christelike vroulikheid moet lyk is grooot studie ooral. Teen westerse feminisme en oosterse seksslawerny.
Skryf hieroor .dit sal ons toekoms bepaal. Jeremia 31: 15-22.

WIEBO ·

Ek voel ook baie lus om dit te doen…………………. alles loop skeef en het nie kos vir vanaand vir my en die kinders nie, het al alles verkoop en verpand en werk my dinges af…………………

Tania Heyns ·

Dagsê Wiebo

Dankie vir jou kommentaar. Indien jy angstig of depressief voel en graag met iemand wil gesels, is jy welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat jou deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Baie sterkte!

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Katryn ·

Ek hoor jou en ek dink baie van ons was ook al daar. Alles het so ongelooflik duur geword. Dit voel of mens heeltyd agteruit boer! Tussen my en my kerel het ons drie salarisse, hy werk na-ure sy alie af. Ons kom steeds nie uit met ons geld nie. En ek sweer, ons koop net die nodige! Ons sit geyser af, koop regte gloeilampe, gaan nie op vakansie nie, eet nie uit nie, is altyd by die huis en steeds is ons arm. Daardeur wil ek vir jou sê dat dit sleg gaan met baie huishoudings nou. ‘n Vriend van ons het ook al vir ons kos gebring! Dis nie ‘n skande nie. Maar dis ook nie die einde nie. Vandag en elke dag gaan ek nou spesiaal vir JOU bid, dat God jou situasie sal verander. Dat Hy jou lewe NUUT sal maak en ook dié van jou kindertjies. Ek weet Hy kan! Byt vas, dinge gaan verander! Is daar iets waarmee ons kan help?

Meisiemens ·

WIEBO, asseblief, dis nie die uitweg nie. Die cliche om te se ek weet waardeur jy gaan, gaan ek nie eens gebruik nie.
Jou kinders het jou en jou liefde nodig. En jy vir hulle.

Andre ·

@ Wiebo: oorweeg dit om jou selnommer te verskaf sodat mense kan help!

Katryn ·

@Wiebo, jip, ek stem saam met Andre, sit asb jou nommer hier op? Mense kan vir jou geld telefonies oorbetaal, dan kan jy die geld gaan trek by Checkers of so. Waar bly julle? Watter dorp of stad? Miskien bly jy naby een van ons en ons kan help! Druk jou trots in jou sak en plaas net ‘n nommer…

Tanya ·

Nee Wiebo moenie jou nommer gee of die nommers bel van mense wat hulp aanbied hier nie. Meeste van hulle wil jou net vertel dat jy hel toe gaan. Dit het met my gebeur hier. Bid en vertrou op God alleen om vir jou ‘n pad oop te maak. Mense is wreed.

SNEL ·

Wiebo, n mens se kosbaarste besitting is jou gesin. Moet nie dat die druk van die lewe jou breek en onderkry nie. Fokus net op n dag op n slag. My gebed is dat iemand wat hier lees jou sal kan help met n werk. Moet net nooit tot daai stap oorgaan nie. Die lewe en n lewe is kosbaar. Moet die vyand nie n plek in jou gedagtes gee nie. Moet ook nie wat mense dink jou pla nie. Dag op n slag, jou skat is jou gesin en jou oë op God. Hierdie lewe is nie altyd maklik, maar n ewigheid wag saam met God, maar God alleen het reg oor lewe of dood. Ek bid vir jou. Staan sterk.

Blommie ·

Hoekom nie net jouself skiet nie.
Hoekom almal dood skiet, hy is n lafaard en ruggraatloos…….
RIV die mamma en die arme 3 kinders, dit oes vreeslik tramaties gewees het.

Ag twak ·

Die het my warm onder die kraag. Party mense dink hulle BESIT hulle maat / kinders en wanneer dinge nie na hulle sin gaan wis hulle sommer die gesin uit. Ek kan my nie daardie vrou en kinders se laaste oomblikke indink nie. Soek soveel redes en oorsake maar dit is net nie normaal om te dink jy het die reg om te besluit wie lewe en wie nie. Respek vir lewe is net nie meer – mense wil derms ryg en redes gaan soek, daar is soveel verskonings maar die belangrikste – respek vir ‘n ander se lewe is nie nie meer. Leer jou kinders om alle lewe te respekteer. Jou vrou is nie jou besitting nie.

Nettie ·

@Ag twak – het jy dalk daaraan gedink dat mense wat self- en gesinsdood pleeg, bevrees is dat hulle gesinne tot niet sal gaan sonder hulle? Veronderstel die ma werk nie en is al járe uit die werksmark (was mamma en huisvrou van die dag wat die eerste kind gebore is). As die pa net sy eie lewe neem, dalk geen lewensversekering het nie en nie sy eie huis besit nie, is sy vrou en sy kinders uitgelewer (“destitute”). Daarom neem hy hulle lewens en ook sy eie lewe. Ek praat dit nie goed nie. Al wat ek sê is dat ‘n ander man se boek duister is en ons moenie so gou oordeel nie.

Nee ·

@Nettie Nee daar is mense wat vreesbegange is wat van hulle geliefdes gaan word wanneer hulle nie meer vir hulle kan sorg en ek kan dit verstaan maar steeds is hulle nie God nie. Mens mag nie ‘n lewe so neem nie. Die het meer gegaan oor huweliksprobleme as ek die strekking so lees, daar is ook net mense wat redeneer as ek jou nie kan kry sal niemand anders en dit maak my vies. Vier mense is dood, 3 kinders wat nog nie eens ‘n kans gehad het op ‘n lewe. Hulle het dit eenvoudig nie verdien nie.

Jockey ·

Dit maak my rooi sien………Hoekom as jou lewe ‘n flop is, of jy nie ‘n uitweg het nie, moet jy alles saam jou aan ‘n einde bring!!!! Dink mense dink…………..!!! Regtig so onnodig! Gaan kyk as jou kind rustig le en slaap, en dan dink jy of jy daai lewe sal neem, daai lewe wat nog geleef moet word. Selfmoord en Gesinsmoord is nie die uitweg nie…..draai na die Here toe en hou aan glo. LIEFDE OORWIN ALLES!!!!!!!!!!

Piet Pompies ·

Ek wil graag net vir Tania wat op WIEBO se brief reageer het, se dat ‘iemand om mee te gesels’ soms die laaste ding is waarvoor mense in moeilike omstandighede kans sien. Feit van die saak is vanaand is daar nie kos op die tafel nie en heelmoontlik ook nie brandstof in die motor om werk te gaan soek nie. Mense, veral die wat vanuit hulle ‘comfort zones’ praat, gee baie goeie raad, en wil altyd graag vir jou bid of moed inpraat, maar dit verander niks. Bid sit nie vanaand kos in jou kinders se magies nie. Beraders ook nie! Glo my, ek is diep gelowig en vertrou die Here vir alles in my lewe en bid sonder ophou. (Ek se dus nie dat ons nie moet bid nie.) Ons moet BID. Ons moet almal ons oe begin oopmaak, nood is partykeer onder jou neus sonder dat ons dit raaksien. Aanhoudende swaarkry maak mense wanhopig in so mate dat hulle heeltemal perspektief verloor en dan is gesinsmoord al uitweg. BID dat ons Geestes oe en ore oop sal wees sodat ons sal weet waar en hoe ons kan help, want dis reg voor ons.

Piet Pompies ·

Ek sien ek het ‘n naamsgenoot gekry, welkom Piet Pompies..

Stormrider ·

Ons moet meer betrokke raak by ons bure en gemeenskap mense. Geld is die groot euwel wat ons uitmekaar dryf

Klara ·

Jy is heeltemal reg. Omgee, diep kyk, mooi luister…my naaste is my naaste. Ék kan sien en hoor wat my buurman se familie en vriende wat ver woon nie van weet nie. Daarom moet ék ondersteun en help waar ek ookal kan. Dis my voorreg.

Louisa ·

Ons leef in n tyd waarin mens maklik wanhopig kan raak. Alles word peperduur en werk word al skaarser. Eer hul begin, sal mense moet besef wat n kind jou gaan kos, tot jy hom op ouderdom 25 geskool en gegradueerd en op sy voete het. Die wanhoop kom wanneer jy tot jou skok uitvind jy kan nie eers kos op die tafel sit vir jou gesin nie.

Ywer ·

Sjoe maar jy gee darm die vroumense baie krediet, dis waar dat God huilende vrouens hoor ja, maar wat van mans, jy laat dit nou klink of mans weerloos is en dat hulle nie hulle eie besluite kan neem, of vir hulself kan dink nie. Ek dink nie jy moet mans so sleg af maak nie. Dit is tog ‘n man wat in die presidents bank sit en vir die land besluite neem?

Lee ·

Is dit nie die mooiste ou kindergesiggies en Mamma nie?
So jammer.
SAD

Anarchy ·

Lewe is tuff, ons dink dis net hier by ons wat dinge erg is, lyk my dis ma die lewe oor die algemeen.Hoe se hulle”Hard times create strong men, strong men create good times, good times create weak men, weak men create Hard times”

Elsa ·

Ek kan verstaan as iemand wil selfmoord pleeg en nie verder kans sien vir die lewe of probleme nie, dit daardie persoon se eie keuse is. Ek kan egter nie verstaan hoe so ‘n mens kan besluit dat die res van die gesin ook saam met hom of haar moet sterf nie. Daar sou dalk familie of ander mense gewees het wat daardie kindertjies met liefde verder sou wou grootmaak en hulle ‘n kans kon gee om gelukkige en sinvolle lewens te lei. Laat dié wat nie meer wil lewe nie, ‘n einde aan hul eie lewens maak, maar los die ander huweliksmaat en kinders uit en gun hulle die reg om te lewe.

JAN ·

Die skok en rou reaksie gaan deur 5 fases:
aanvanklik ontkenning – aggressie – aanvaarding – berusting – geestelike littekens op die einde. Die duurte en intensiteit van elke fase verskil geweldig .
die 2de fase is die gevaarlikste vir self en ander.
Ons is gedurig besig daarmee – dit is soos mens se kop werk.
Dit geld vir individue en gemeenskappe en horribaal van toepassing op die Afrikaner volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.