Manslagklagte teen Alec Baldwin glo binnekort laat vaar

Die akteur Alec Baldwin (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die aanklagte van onwillekeurige manslag teen Hollywood-akteur Alec Baldwin weens ʼn noodlottige skietvoorval op ʼn rolprentstel, sal glo Vrydag laat vaar word nadat “nuwe feite” aan die lig gekom het en verdere ondersoek noop.

Só het Baldwin se regsverteenwoordiger Donderdag gesê. Dit kom enkele weke voordat ʼn verhoor sou begin. Spesiale aanklaers wat verlede week aangestel is, sê hoewel die aanklagte teen Baldwin teruggetrek gaan word, is hy nog nie uit die moeilikheid nie.

Baldwin is in Januarie van manslag aangekla nadat die kinematograaf Halyna Hutchins tydens die verfilming van Rust in New Mexico in 2021 doodgeskiet is. Hy het onskuldig gepleit.

Baldwin het ’n Colt .45-handwapen tydens repetisies vasgehou toe dit afgegaan en Hutchins getref het. Die regisseur Joel Souza is ook gewond.

Luidens ʼn verklaring deur New Mexico-prokureurs Kari Morrissey en Jason Lewis noop nuwe feite wat tydens die voorbereiding van die verhoor aan die lig gekom het, verdere ondersoek en forensiese ontleding. Dit beteken egter nie dat Baldwin nou skotvry van die voorval sal afkom nie.

“Ons gaan die aanklagte van onwillekeurige manslag teen mnr. Baldwin van die hand wys om verdere ondersoek te doen. Hierdie besluit beteken egter nie dat strafregtelike klagte teen mnr. Baldwin nie weer ingestel kan word nie. Die ondersoek duur voort.”

Volgens prokureurs bly die aanklagte teen Hannah Gutierrez-Reed, die jong wapenhanteerder wat verantwoordelik was vir wapens op die stel van die film, onveranderd.

Baldwin se prokureurs het die aankondiging verwelkom om die saak teen Baldwin terug te trek.

“Ons moedig ʼn behoorlike ondersoek na hierdie tragiese ongeluk aan,” het prokureurs Luke Nikas en Alex Spiro gesê.

Die strafsaak teen Baldwin het die afgelope paar maande verskeie wetlike slaggate getref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

De Bok ·

Dit wil vir my klink dat die “nuwe feite” tevoorskyn gekom het in die vorm van omkoopgeld

Hennie Biebouw ·

Yep, as jy ‘n “swamp connected” Demokraat is, geld ‘n totaal ander stel wette vir jou. Hierdie mense is nou al so arrogant, hul probeer dit nie eens meer wegsteek nie.

Owlie ·

Die klag is belaglik
Doen n behoorlike ondersoek wanneer so iets gebeur en nie maande later eers nie

#sêmaarnet ·

Dalk moet ons nie net dadelik met messeinklim en die ou oordeel nie. Dit was dalk a absolute frats ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.