Manslagondersoek kom dalk ná Duitse oorstromings

Kesseling, Duitsland. (Foto: Ferdinand Merzbach/AFP)

Duitse staatsaanklaers het Maandag gesê hulle ondersoek gronde vir ’n moontlike manslagaanklag wat spruit uit mislukte of vertraagde waarskuwings omtrent die verwoestende oorstromings in Julie vanjaar in dié land.

Die oorstromings het die lewe van minstens 186 mense geëis.

Maroela Media het berig dat die weste van Duitsland die ergste onder die oorstromings deurgeloop het, wat ook België, Luxemburg en Nederland getref het en strate en huise onder modderwater gelaat het.

Talle gemeenskappe was heeltemal van die buitewêreld afgesny.

Daar het intussen ook talle vrae ontstaan oor die kwessie of genoeg gedoen is om inwoners vooraf te waarsku.

Staatsaanklaers oorweeg nou of daar gronde is vir ondersoeke na “nalatige manslag en roekelose of nalatige optrede wat tot leed gelei het as gevolg van mislukte of vertraagde waarskuwings of die ontruiming van die bevolking”.

Brandbestryders kyk na ‘n krater langs ‘n verbrokkelde pad in Schuld, Duitsland. (Foto: Christof Stache/AFP)

Onder die bewysstukke is polisieverslae rakende die dood van 12 mense by ’n versorgingsoord in die dorp Sinzig. Daar was geen tyd om inwoners te verwyder nie aangesien die grondvloer vinnig onder water was.

Frankfurter Allgemeine Zeitung berig dat plaaslike owerhede in Ahrweiler reeds die middag van 14 Julie deur die staat se omgewingskantoor oor die dreigende oorstromings gewaarsku is.

Die owerhede is teen 21:30 gewaarsku dat die watervlak tot bykans 7 m kan styg, maar hulle het eers 90 minute later ’n ramp verklaar en opdrag vir ’n gedeeltelike ontruiming gegee.

Heinz Wolschendorf, wat in beheer van reddingsdienste in die Ahrtal-streek in Rhineland-Palatinate was, het die ontplooiing van reddingspanne Maandag verdedig.

“Ons het alles moontlik gedoen om die bevolking te ondersteun en reddingspogings uit te voer.”

Horst Seehofer, die Duitse minister van binnelandse sake, het verlede week gesê dat Duitsland in die toekoms SMS-boodskappe sal uitstuur om inwoners oor moontlike gevare te waarsku.

Minstens 26 mense word steeds vermis.

Kanselier Angela Merkel se kabinet het onlangs ʼn groot noodlenigingspakket goedgekeur vir streke in Duitsland wat deur oorstromings geteister is. Miljarde is glo nodig om huise, ondernemings en noodsaaklike infrastruktuur te herbou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

So die mense moet wag tot hulle gewaarsku word dat daar ‘n vloed is… ek het al verkas voor die water my huis instroom. Common sense…

Niklaas ·

Iemand sal uitgewys moet word as skuldige. Die weer of klimaat is nou glo nie aandadig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.