Marie Antoinette se armbande skitter op veiling

Die twee armbande wat aan Franse koningin Marie Antoinette behoort het (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Twee diamant-armbande wat aan Marie Antoinette behoort het, en “deurdrenk is met haar weelde en drama” aldus Christie’s-afslaers, is Dinsdag vir meer as R123 miljoen verkoop.

Dit is die eerste keer dat die armbande, wat 112 ou geslypte diamante bevat, ooit onder die hamer kom.

Marie Antoinette was die laaste koningin van Frankryk voor die Franse Rewolusie. Sy is in die ouderdom van 37 in Oktober 1793 op aanklag van hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel wat per guillotine uitgevoer is.

“Haar styl definieer die unieke estetika van Versailles: weelderig en koninklik, maar tog jeugdig en romanties,” het Francois Curiel, voorsitter van Christie’s Europa, gesê. “Die koninklike herkoms van die armbande is onberispelik. Die erfenis-oordrag is ononderbroke en kan terugdateer word tot 1776. Die armbande is ook in twee bekende geskiedkundige skilderye te sien.”

Die armbande is 18.7 cm lank en weeg elkeen 97 gram.

Dit is vir 7 459 000 Switserse frank verkoop op ʼn veiling in Genève. Die verwagting was dat dit vir tussen 2 en 4 miljoen Switserse frank verkoop sou word.

“Die eerste aanbod was 5 miljoen frank – dit is hoe opgewonde versamelaars was om ʼn werklike stuk geskiedenis te bekom wat al 200 jaar lank in dieselfde familie gebly het,” het Rahul Kadakia, internasionale hoof van juweliersware by Christie’s, aan AFP gesê. “Die uiteindelike bedrag is merkwaardig vir ʼn wonderlike stuk juweliersware.”

Toe koning Lodewyk XVI, sy vrou Marie Antoinette en hul kinders in Maart 1791 van die Franse Rewolusie wou vlug, is die koninklike juwele uit die land gesmokkel en in die sorg van ʼn vertroueling in Brussel gelaat. Dit is daarna na familielede in die koningin se tuisland van Oostenryk gestuur en is deur die generasies heen oorgedra.

Die armbande vorm deel van Christie’s Genève se Ongelooflike juwele-reeks.

Die twee armbande wat aan Franse koningin Marie Antoinette behoort het (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Mmm… Mens kan skaars jou ou horlosie aan jou arm dra na ons Mall’s. Waarheen sou een van ons dit deesdae aansit in SA. In ‘n kluis laat lê vir die kinders om oor te baklei? Meeste van ons het skaars ‘n hoender in die bank oor in hierdie opwindende platsak land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.