Marvel-akteur (71) sterf

William Hurt in 2016 tydens ‘n mediatoer by die Beverly Hilton-hotel in Beverly Hills, Kalifornië. (Foto: Charley Gallay/Getty Images via AFP)

William Hurt, die Oscar-bekroonde akteur bekend vir sy rolle in ʼn rits Marvel-flieks as General Thaddeus “Thunderbolt” Ross, het gesterf.

Hy was 71 jaar oud. Die akteur is in 2018 met terminale prostaatkanker gediagnoseer en het volgens sy familie aan natuurlike oorsake gesterf.

Die akteur is ʼn week voor sy 72ste verjaarsdag oorlede. “Hy het rustig in sy slaap gesterf, omring deur familie,” lui ʼn verklaring wat sy familie aan die publikasie Deadline uitgereik het.

“Dit is met groot hartseer dat die Hurt-familie die afsterwe van William Hurt, geliefde pa en Oscar-wenner, betreur. Die familie versoek privaatheid gedurende dié tyd.”

Hurt het in 1986 ʼn Oscar-beeldjie huis toe gevat vir sy rol as ʼn gevangene in die fliek Kiss of the Spider Woman. Hy is weer twee keer benoem vir ʼn Oscar vir die rolprente Children of a Lesser God en Broadcast News.

“Sjoe, nog ʼn groot verlies vir die vermaakbedryf. Uitstekende akteur,” het Mark Ruffalo, ook ʼn Marvel-akteur, op Twitter geskryf.

Matthew Modine het Hurt as “volslae professioneel” beskryf en gesê hy was iemand wat “deurgaans gesoek het na die groter waarheid en menslike begrip”.

“ʼn Groot akteur het ons verlaat,” het Antonio Banderas gesê, terwyl die akteur Russell Crowe, die regisseur M Night Shyamalan en die aktrise Rebecca Front ook huldeblyke aan Hurt op sosiale media gelewer het.

William Hurt arriveer in Januarie 2012 by die 69ste jaarlikse Golden Globe-toekennings in Beverly Hills, Kalifornië. (Foto: Jason Merritt/AFP)

Hurt het sy akteursloopbaan in die 1970’s op die verhoog begin voordat hy sy deurbraak in rolprente gemaak het in Altered States, waarvoor hy in 1981 vir beste nuweling benoem is by die Golden Globe-toekennings.

Hy het in dieselfde jaar as ʼn pierewaaier-prokureur in die riller Body Heat verskyn voordat hy rolle in The Big Chill en Gorky Park losgeslaan het.

Hy het later in flieks soos The Accidental Tourist, Lost in Space, Contagion en Al verskyn en het in 2006 ʼn vierde Oscar-benoeming vir A History of Violence ontvang.

Hy het ook ʼn rits Emmy-benoemings ontvang vir sy rolle in Too Big to Fail en Damages.

Hurt het later na die teater teruggekeer in produksies soos Henry V, A Midsummer Night’s Dream en Hurlyburly, waarvoor hy ʼn Tony-benoeming ontvang het.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Sterkte aan die familie.
Maar nou verstaan ek nie die berig nie. Hy het terminale kanker gehad maar is aan natuurlike oorsake oorlede! Bedoelende nou dat kanker natuurlik is? Sou dit nie eerder wees agv kanker nie? Vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.