Massa-inentingsprogram in Verenigde Koninkryk begin

Verpleegpersoneel in Engeland berei voor om die eerste entstof in die land se massa-inentingsprogram teen Covid-19 toe te dien. (Foto: Jacob King/AFP)

Die Verenigde Koninkryk (VK) het Dinsdag gesê hy het ʼn keerpunt in die stryd teen die koronavirus bereik nadat hy begin het met die grootste inentingsprogram in die land se geskiedenis.

Die eerste pasiënte – diegene ouer as 80, werkers in tehuise, asook diegene in die vooste linies, soos gesondheid- en maatskaplike werkers – sal Dinsdag, op wat V-dag gedoop is, moue oprol vir die eerste dosis.

ʼn 90-jarige was vroegoggend die eerste Brit om die entstof volgens die program te ontvang. Diegene wat die entstof ontvang, moet oor 21 dae ʼn tweede toediening kry.

Engeland was verlede week die eerste land om die Pfizer-BioNTech-entstof goed te keur, wat hoop laat opvlam het dat daar eindelik ʼn deurbraak in die stryd teen die siekte – wat wêreldwyd reeds 1,5 miljoen lewens geëis het – gemaak is.

Die land is een van dié wat die swaarste deur Covid-19 getref is en daar is reeds meer as 61 000 sterftes en 1,6 miljoen bevestigde gevalle van die virus.

May Parsons gee ‘n entstof van Pfizer-BioNtech aan Margaret Keenan (90). Keenan is die eerste ontvanger van die entstof in die land se massa-inentingsprogram. (Foto: Jacob King/AFP)

Boris Johnson, die land se eerste minister wat self dae lank in ʼn hospitaal se intensiewe sorgeenheid vir die virus behandel is, het die program “ʼn reusestap in die VK se stryd teen die koronavirus” genoem.

Matt Hancock, minister van gesondheid, het aangebied om die inenting regstreeks op televisie te ontvang om vrese oor die veiligheid van die entstof te help besweer. Hy het gesê die inentingsprogram is ʼn  bepalende oomblik en gaan help om die mees kwesbare burgers te beskerm.

Regulatoriese goedkeuring vir die entstof is verlede Woensdag gegee. Dit het ʼn stryd teen tyd veroorsaak om tientalle inentingsentrums landwyd voor te berei.

Die land het 40 miljoen dosisse van die entstof bestel, genoeg om 20 miljoen mense in te ent, met 800 000 dosisse wat aanvanklik ontvang is.

Sowat vier miljoen dosisse word teen die einde van die maand verwag.

Koningin kan leiding gee

Engeland se Koningin Elizabeth II. (Argieffoto: Aaron Chown/AFP)

Die massa-inentings is ʼn gekoördineerde optrede deur al vier lande in die VK – Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland – wat elk gewoonlik hul eie gesondheidsbeleid bepaal.

Die publiek was grootliks ten gunste van die vinnige goedkeuring van die entstof, maar ministers en medici besef veel meer moet nog gedoen word om wantroue oor die medikasie uit die weg te ruim.

Die onafhanklike Regulatoriese Agentskap vir Medisyne en Gesondheidsprodukte hou vol geen kortpaaie is geneem nie en sy assessering en goedkeuring het aan streng internasionale standaarde voldoen.

Duisende mense het die entstof tydens proewe ontvang en geen ernstige newe-effekte is aangemeld nie.

Daar was berigte dat die 94-jarige Koningin Elizabeth II, wat weens haar ouderdom een van diegene is wat eerste vir ʼn inenting kwalifiseer, se ontvang van die entstof groter bewusmaking en voldoening onder die publiek kan aanmoedig.

Die regering sê hoewel hy inentingskaarte uitdeel om mense te herinner om oor drie weke ʼn opvolgdosis te kry, is hy nie besig om sogenaamde immuniseringsertifikate in te stel nie.

‘Minimale uitwerking’ in winter

Die hoof- mediese beamptes vir Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland sê die entstof gaan in die wintermaande ʼn minimale uitwerking op die aantal hospitaalopnames hê.

Johnson het gepleit vir geduld en het mense gevra om gehoor te gee aan sosiale afstandhandhawingsmaatreëls om ʼn toename in gevalle te voorkom, veral wanneer die regulasies oor die Kerstyd verslap word.

Die toediening van die entstof het boonop reeds vir logistieke hoofbrekens gesorg.

Die entstof moet teen -70 °C geberg word, wat beteken hospitale en ander mediese sentrums is die enigste plekke met fasiliteite om dié temperatuur te handhaaf.

Die Pfizer-BioNTech-entstof word in België vervaardig en daar is reeds kommer oor die moontlike ontwrigting van toevoer wanneer Brittanje die Europese Unie (EU) verlaat.

Die Britse regering het egter gesê die weermag is op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas om die entstof in te vlieg indien enige oponthoude by landsgrense ontstaan.

ʼn Entstof wat deur AstraZeneca in samewerking met die Universiteit van Oxford ontwikkel is, sal na verwagting aan die oorgrote meerderheid van die land se inentingsbehoeftes voldoen. Daar word egter steeds op regulatoriese goedkeuring vir dié entstof gewag.

Die regering het ʼn aanvanklike 100 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof bestel. Dit is goedkoper om te vervaardig en makliker om in konvensionele yskaste te berg en te vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Aai ·

By die tyd wat hy hier by ons is sal daar al probleme in die ander lande opgemerk word.

Androclus ·

Hou daai ding van my lyf af !OF EK KAP HOM SOMMER MET DIE BYL AF!

Matilda ·

Ek stem saam Drikus, as ek enigsins ‘n keuse het sal ek dit beslis nie neem nie – te veel nagatiewe dinge gehoor hieroor.

Jan ·

Solank dit altyd mense se eie keuse bly om te gaan vir die enstof en nie afgedwing word met wetgewing nie.

Francois Le Cochon ·

Om die entstof te ontwikkel kos honderde mijoene dollars. Moet dit verniet gegee word?

Jan ·

Menige artikels van die Grondwet beskerm jou teen alles wat in lockdown aan ons gedoen word. Rampbestuur Wet kan enige artikel van Grondwet opskort as dit gaan om mense lewens te “red”.

Anel ·

Hou maar verby. En dan sê hulle geen ernstig newe efekte is waargeneem nie. Enige newe efek is negatief. So hou maar verby.

Lorna ·

Maar is daar nie gespekuleer dit sou hul jare vat om oplossing te maak nie
Wel hul gaan seker maar net water ingespuit word en iemand lag al die pad bank toe
Los my uit het julle my mooi verstaan

Jakez ·

– wat wêreldwyd reeds 1,5 lewens geëis het – gemaak is.

Ek dink jul het die “miljoen” na 1,5 vergeet.

Megan Swart ·

Dagsê Jakez
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet inderdaad miljoen wees. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Persheks Adri ·

Hou verby dankie ek soek dit nie eers verniet nie! My liggaam my keuse klaar

Vriendelike Frikkie ·

Dis hartsverskeurende om te sien hoe kommentators met hul onkunde op die mou loop. Vasgehak in sameswerings valsnuus. Meer kundig as geleerdes wat dekades al die wetenskap beoefen. Werklikwaar hartverskeurend.

Dirk Mostert ·

As MM dit sou toelaat kan ek verwysings na wetenskaplike lektuur verskaf wat jou hare sal laat regop staan. Dis nie vals nuus nie. Sameswering is daar wel.

Francois Le Cochon ·

As die hele wereld se mediese wetenskaplikes ‘n bevinding maak, en een mediese wetenskaplike van Duitsland dit as sameswering beskou, hoekom die een glo?

Dirk Mostert ·

Nie net een nie, nie net in Duitsland nie. “Sameswering” en “vals nuus” is terme ontwerp deur die kabaal as teenvoeter vir enige poging om hul gekonkel bloot te stel.

Dirk Mostert ·

Volgens jou aanvaar die hele wereld se mediese wetenskaplikes dat Covid-19 bestaan, ten spyte daarvan dat die virus tot sover nog nie geisoleer is nie! Watter bedryf verdien die meeste $ uit die “pandemie”?

Dirk Mostert ·

Slegs sowat 0.1% van die Britte het in die afgelope jaar weens Covid-19 “verwante” oorsake gesterf, sowat 1% van jaarlikse gemiddelde sterftes. Total wereldwye sterftes toegeskryf aan Covid-19 is ook sowat 1% van die jaarlikse gemiddelde sterftes.

Dirk Mostert ·

Korreksie: 10% van Britse jaarlikse sterftes as hul gemiddelde lewensverwagting 100 jaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.