Massa-migrasie beplan om diere te red van droogte

‘n Trop olifante in die Hwange- Nasionale Park (10 November 2019) )(Foto: AP Photo)

WAARSKUWING: Twee foto’s onderaan die berig is ontstellend en nie geskik vir kinders of sensitiewe kykers nie. 

Zimbabwe se parke-agentskap het vroeër die week gesê hulle beplan om wild uit die suide van die land te skuif te midde van die voortslepende droogte wat die streek teister.

Volgens Tinashe Farawo, ʼn woordvoerder van Zimbabwe se nasionale parke en wildlewe-bestuuragentskap, het daar al sedert Oktober minstens 200 olifante gevrek in die Hwange- Nasionale Park en ander parke word ook deur die droogte geraak.

Farawo sê kameelperde, buffels en rooibokke het ook gevrek en die situasie sal net kan verbeter as die streek goeie reën ontvang.

“Byna elke dier word geraak, maar die impak is die maklikste waarneembaar by olifante tydens patrollies of wildritte. Sommige voëlspesies kan ook nie broei nie, want die olifante stoot van die bome om voor dit hoog genoeg kan groei vir dié voëls om hulle neste te bou.”

Baie diere dwaal ook uit die parke na nabygeleë gemeenskappe op soek na kos en water. Volgens die parkeagentskap het 33 mense hierdie jaar al gesterf omdat hulle in konflik met wilde diere gekom het.

Die agentskap beplan nou om 600 olifante, twee leeutroppe en ander diere uit die Save-vallei bewaringsgebied in die suidooste van Zimbabwe na parke met kleiner wildbevolkings te skuif. Volgens Farawo sal ʼn trop wildehonde, 50 buffels, 40 kameelperde en 2 000 rooibokke ook hervestig word.

“Die diere het nou die omgewing se ekologiese drakrag oorskry. As die bevolkings nie gekontroleer word nie, sal die diere die einste ekostelsels begin bedreig waarvan hulle afhanklik is om te oorleef.”

Zimbabwe het na beraming 85 000 olifante, die tweede grootste bevolking naas hulle buurland Botswana wat meer as 130 000 van dié soogdiere het.

Zimbabwe sê egter hy sukkel om die groeiende getal wilde olifante te hanteer en wil toestemming bekom om sy ivoorvoorraad te verkoop. Die land wil ook lewende olifante uitvoer om geld in te samel vir bewaring en die parke wat tans onder die droogte deurloop.

Die land het tussen 2016 en 2019 reeds 101 olifante uitgevoer, hoofsaaklik na China en die Verenigde Arabiese Emirate, wat volgens die parkeagentskap meer as $3 miljoen vir bewaringspogings ingesamel het.

Maroela Media het vroeër berig meer as ʼn 100 olifante het oor die afgelope twee maande in die noord van Botswana gevrek weens die voortslepende droogte in dié land. “Groot dele van Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe het hulle laagste algehele reënval sedert 1981 ontvang,” sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Volgens die (SAOG) kan die vinger na klimaatsverandering gewys word wat daartoe gelei het dat sentrale en westelike gebiede dié reënseisoen die ergste gaan deurloop onder droogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
sannie

Darem net so tragies

Bennie

Ons almal moet bid en GOD vra om ons te help . En glo dan HY sal dit doen .

Gaitsigubib

Toets toets, kan mens iets plaas as jy nie groen is nie?

Gaitsigubib

Dan probeer ek maar weer, as daar hoegenaamd bestuur van ons natuurlewe toegepas word dan sal daar nie so baie diere steftes wees nie en die veld sal ook nie so selg gelyk het nie.