Massagraf in Mosambiek ontken

Mosambiek

Mosambiek

Die administrateur van die Gorongosa-distrik in Mosambiek het berigte in buitelandse media oor ʼn massagraf in dié gebied ontken.

Internasionale media het Donderdag berig oor ʼn massagraf met ongeveer 120 liggame wat in Gorongosa gevind is. Volgens die berigte het die slagting plaasgevind tydens gevegte tussen die rebellebeweging Renamo en die nasionale polisie en weermag. Dit is ook waar Afonso Dhlakama, leier van Renamo, se tradisionele hoofkwartier geleë is.

Volgens die Gorongosa-administrasie het hulle egter ondersoek ingestel en kon nie die graf of enige liggame vind nie.

Manuel Jamaca, administrateur, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die owerhede is na die gebied ontbied waar die massagraf na bewering gevind is, en het kontak gemaak met die plaaslike gemeenskap en sy leiers. Die gevolgtrekking was egter dat die storie vals is.

Jamaca het die verslaggewers daarvan beskuldig dat hulle poog om die “beeld van die distrik en die land te skend” en dat hulle die nasionale en internasionale gemeenskap probeer verwar oor die openbare orde, veiligheid en kalmte in die land.

ʼn Foto word op die sosialemediawebwerf Facebook versprei wat glo die Gorongosa-massagraf is, maar die foto blyk vals te wees. Dit is wel ʼn foto van ʼn massagraf, maar nie in Mosambiek nie. Die foto is meer as vier jaar gelede in die Filippyne geneem en wys die slagoffers van vloede wat die land getref het en in ʼn algemene graf geplaas is. Die foto het in Desember 2011 in die Portugese media verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david ras ·

Ons het daardie ondervinding ook gedurende die apartheidsjare gehad–oorsese berigte soos swartes wat gedurende etenspouse op ‘n plein le en slaap met onder die opskrif dat hulle konsuis deur die polisie doodgeskiet is……en dan daardie alewige juweeltjie van ‘n foto–swartes iewers agter ‘n diamant draad heining in een van SA se “helkampe”, kampe wat niemand sedert 1994 nog kon uitwys nie….
Janee, ons weet hoe voel die liegstories……
Miskien moet ons ‘n LIEG MUSEUM iewers oopmaak, so na aanleiding van die Apartheidsmuseum…….
Dalk sal die waarheid sommiges bevry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.