Massiewe kubermisdaadwebwerf nekslag toegedien

(Foto: Remko de Waal / AFP)

Europol het Woensdag aangekondig dat een van die grootste kubermisdaadmarkte ter wêreld ná ’n reuse-operasie gesluit is.

Dié aanlyn mark bekend as Genesis Market het onder meer in miljoene gesteelde identiteite en rekeningbesonderhede gehandel.

Volgens Europol het owerhede wêreldwyd aan “Operasie Koekiemonster” deelgeneem en is 120 mense reeds in hegtenis geneem. Altesaam 17 lande se owerhede is by die operasie betrek wat deur die FBI en die Nederlandse polisie gelei is. Klopjagte het reeds Dinsdagoggend vroeg afgeskop.

Europol verduidelik dat Genenis Market onder meer gesteelde rekeningbewyse aan kuberkrakers wêreldwyd verkoop het. Dit sluit in rekeningbesonderhede en wagwoorde vir gewilde webwerwe soos Airbnb, Amazon, Ebay, Facebook, PayPal en Netflix. Misdadigers wat hierdie gesteelde besonderhede gekoop het, is selfs deur Genesis in kennis gestel as regmatige intekenaars hul wagwoorde op hierdie webwerwe verander het.

Meer as twee miljoen mense se rekeninge en besonderhede was ten tyde van die klopjag as te koop op Genesis Market gelys. Hul kliënte was glo oor die hele wêreld versprei.

Verdagtes is onder meer in Australië, Brittanje, Kanada, die VSA en in tien Europese lande vasgetrek.

Edvardas Sileris, hoof van Europol se Europese kubermisdaadsentrum wat met die operasie gehelp het, sê die Genesis Market het ʼn sleutelrol in die kubermisdaadmark gespeel en dat die sluiting daarvan die hele kubermisdaad-ekostelsel nou ontwrig het.

BBC berig dat Genesis Market nie net op die donkerweb handel gedryf het nie, maar ook op die openbare web. Dié Engelse webwerf is in 2017 op die been gebring en was bekend vir sy gebruikersvriendelike voorkoms.

Enigeen wat Woensdag op die Genesis-webwerf probeer inteken het, sou ʼn boodskap sien wat lees: “Operation Cookie Monster. This website has been seized.

Genesis Market het glo 80 miljoen stelle besonderhede soos intekenbesonderhede, digitale vingerafdrukke, wagwoorde en dies meer te koop aangebied.

Die Nasionale Ekonomiese Misdaadsentrum (NCA) in Brittanje het die webwerf as ʼn “massiewe instaatsteller van bedrog” bestempel.

“Vir veels te lank het misdadigers besonderhede van onskuldige lede van die publiek gesteel,” het Robert Jones, direkteur-generaal van die NCA volgens BBC gesê.

“Ons wil nou hê misdadigers moet bang wees dat ons hul besonderhede het – en hulle moet bang wees.”

Jones sê die webwerf was baie gesofistikeerd en het die slagoffers se gesteelde data op so ʼn wyse aangewend dat dit geen rooi vlaggies rakende veiligheid geskep het nie. Dit het selfs voorgekom of die gesteelde data deur die slagoffer self gebruik word op dieselfde plek as waar die slagoffer gewoonlik sy of haar toestel sal gebruik om by webwerwe in te teken.

Dit was boonop maklik vir enigeen om Genesis se webwerf te gebruik en het dus nie van oortreders vereis om ervare kuberkrakers te wees nie.

Slagoffers se besonderhede kon vir so min as $1 dollar (ongeveer R18) of $100 (sowat R1 800) aangekoop word.

Individue sowel as sakeondernemings was slagoffers van die korrupte webwerf.

Die polisie is Nederland het intussen ʼn portaal op sy webwerf geskep waar lede van die publiek kan kyk of hul data in gedrang is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Uitstekend maar die grootste “massiewe instaatsteller van bedrog”, die ANC, gaan nog ongestoord voort

Luister graag ·

Daar staan geskrywe: Wie ‘n gat vir ‘n ander grawe, val self daarin;

Pierre ·

Selekteer op die link en vul al julle besonderhede in sodat ons dit kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.