‘Masterchef’-deelnemer sterf skielik

Matt (regs) en sy broer, Josh (Foto: Facebook)

Matt Campbell, ʼn deelnemer aan die gewilde Masterchef-kosprogram, is dood nadat hy tydens ʼn marathon in Londen inmekaargesak het.

The Telegraph berig Campbell het sowat 35 km ná die aanvang van die resies inmekaargesak. Nooddienste het die professionele sjef luidens omstanders te hulp gesnel en met hom hospitaal toe gejaag waar hy later dood is.

ʼn Nadoodse ondersoek was volgens BBC teen Dinsdag nog nié afgehandel nie, en die oorsaak van Campbell se dood kan eers ná die ondersoek bekend gemaak word.

Campbell het ʼn jaar voor sy dood ʼn skarefinansieringsveldtog begin om die lewens van minderbevoorregtes te verryk. Hy het dié veldtog van stapel gestuur ná die dood van sy pa.

Die sjef het vroeër op die blad geskryf: “Soos baie van julle weet, is my pa sowat 18 maande gelede dood. Die laaste jaar en ʼn half was die moeilikste nóg, maar sy gees leef voort in my. Hoewel hy nie in persoon daar [by die marathon] sal wees nie, weet ek hy sal in gees daar wees en ek sal vir hom hardloop.”

ʼn Woordvoerder vir Masterchef het gesê die vervaardigers en die hele span is “geskok” oor Campbell se “skielike dood”. “Dit was ʼn voorreg dat hy deel van ons program kon wees. Ons wil graag ons medelye aan Campbell se familie en vriende oordra,” lui ʼn verklaring.

Campbell was verlede jaar ʼn deelnemer aan Masterchef: The Professionals. Hy was ʼn gesoute marathon-deelnemer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Domme ·

Ek is ‘n leek maar dit kan hoë cholesterol wees. Ek ken ‘n persoon wat verskeie jare aan die Comrades deelgeneem het en tydens ‘n deelname ernstig teëspoed gehad het weens hoë cholesterol. Hy was gebou ook soos ‘n atleet.
Kyk na par. 2 waar ‘help’ moet wees ‘hulp’.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Domme
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Nefie ·

Dit is so hartseer, jammer om te hoor. Hartsiektes is meesal ‘n “silent killer”.

Hoe cholesterol is ‘n simptoom. Dis gevaarlik om net die heeltyd simptome te behandel. Die oorsaak is insulien. Dit werk so:
Wat jy eet/drink laat jou suiker in jou bloedstroom styg > Insulien moet afgeskei word om bloedsuiker af te bring > Insulien veroorsaak inflammasie > Inflammasie verkalk/vernou jou hartsare > dit veroorsaak hartsiektes/hartaanvalle.

Om net ‘n pilletjie te drink om jou cholesterol af te bring is nie die antwoord nie. Eet/drink so dat jou liggaam nie hoef insulien af te skei nie.

Nuuskierig ·

Die vraag is uit pure nuuskierigheid. Waarom word woorde so gereeld in aanhalingstekens gesit in berigte. Kyk na “geskok” en “skielike dood”. Wat is die doel hiervan?

Susan ·

Wil ek ook weet. Dit word regtig baie in beriggewing gebruik. Dis dan ‘n feit, hoekom die “?

Regtersklerk ·

Nuuskierig & Susan, as mens ander mense se woorde gebruik, word dit in aanhalingstekens gesit, bv. Nuuskierig het gesê “Die vraag is uit pure nuuskierigheid” en Susan het gesê “Dit word regtig baie…”. Indien jy bv. ‘n spesifieke paragraaf uit ‘n boek sou gebruik vir ‘n opstel, sou die paragraaf ook in aanhalingstekens geskryf word, omdat dit iemand anders se woorde is. Nog ‘n voorbeeld, Forrest Gump se bekende gesegde lui “Life is like a box of chocolates…”. Hoop my verduideliking maak sin :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.