Max Verstappen: Jongste en eerste Nederlandse F1-wenner

Max Verstappen Foto: Formula One

Max Verstappen Foto: Formula One

Die 18-jarige Max Verstappen het Sondag geskiedenis gemaak in Spanje toe hy as die jongste wenner ooit in die Spaanse Grand Prix aangewys is.

Verstappen is boonop ook die eerste Nederlander wat met dié gesogte titel kan spog.

Hy het voordeel getrek uit ʼn dramatiese ongeluk tydens die eerste rondte tussen die twee Mercedes-renjaers, Lewis Hamilton en Nico Rosberg.

Verstappen was tot die laaste rondte onder geweldige druk van die Ferrari-veteraan Kimi Raikkonen (36).

Dit was die eerste wedren vir Verstappen in ʼn Red Bull-motor, nadat hy ʼn paar dae gelede uit die junior Toro Rosso-span bevorder is.

Ferrari se Sebastian Vettel (28) het die derde plek gehaal.

“Dit voel wonderlik, ek kan dit nie glo nie. Dit was ʼn wonderlike wedren,” het Verstappen op die podium gesê. “Ek moet dankie sê aan die span vir só wonderlike motor. My pa het my baie gehelp om hierdie prestasie te behaal. Dit is wonderlik.”

Max se pa, Jos Verstappen (44), het vantevore in die F1 teen Raikonnen gejaag. “Die feit dat hy [Max] ʼn wedren in sy tweede jaar wen is ongelooflik,” het hy gesê.

Die jong Verstappen kon nie van die gebruiklike sjampanje op die podium drink nie, aangesien hy te jonk is.

Lees meer: F1 Winners and losers – Spain

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

Sebastian Vettel is 28 jaar oud, nie 21 soos in die berig staan nie.
Kimi se van word ook nie as Raikkonen gespel nie, maar “Räikkönen”.

Sune van Heerden ·

Dagsê Paul

Ons vra om verskoning vir die fout met Vettel se ouderdom – dankie dat jy dit onder ons aandag gebring het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Kiepie ·

Maroela, die eerste paragraaf laat dit klink asof hy die jongste jaer is om die Spaanse Grand-Prix te wen terwyl hy eintlik die jongste jaer is om enige F1-wedren in die geskiedenis te wen. Iemand word ook nie as die wenner van ‘n wedren “aangewys” nie. Hy het die oorwinning behaal nie gekry nie.

Eliza-beth ·

Was ‘n opwindende wedren en niemand het hierdie uitslag verwag nie!

Karma ·

Die verdomde Duitse **** van ‘n Rosberg! Hy het Hamilton skerp afgesny – al het hy ‘straight forward’ reg gehad het HY eintlik Hamilton laat gras vreet – ongelukkig het sy taktiek toe soos ‘n bord sop in sy gesig opgespat. Dit – en die feit dat Kimi se span WEER EENS nie na sy bande omgesien het en op die regte tyd ge”pit” het nie – is die enigste rede waarom Max Verstappen gewen het. Hy is nog ‘n kuiken wat BAAAIE moet leer.

Willeman van die Kalahari ·

Klinklare bewys dat F1 net soos rofstoei, ‘n klug is waar die wenner vooraf gereël word.
Die ‘Promoter’ – Bernie Ecclestone en trawante – het reeds voor die wedren vertel hoe merkwaardig dit sou wees indien Verstappen as die jongste wenner van alle tye gekroon kon word.

Karma ·

@Willeman van die Kalahari – dit WEET ons mos nou al lankal! Sport is deur-en-deur verrot van omkopery en die “bookies”/promotors wat uitslae bepaal. En dit is nie net krieket nie – rugby, tennis, fietsry, motorsport, boks, rofstoei …. noem maar op – geld praat. Kyk maar die finale spel in die Italiaanse Ope Sondag – Novak Djokovich was só min lus vir speel, dat hy die wedstryd letterlik aan Murray gegee het – die eerste Brit wat in 27 jaar dié toernooi gewen het. In motorsport is dit dikwels die een spanlid wat bo die ander bevoordeel word – met ‘n beter motor, beter-gekwalifiseerde tegnici, span ens. ens. ens. Dit veroorsaak spanning tussen die twee spanlede, soos in die geval van Vark Rosberg en Lewis Hamilton.

Bernie Ecclestein & kie moet onder die jis geskop word. Hulle het F1 doodgemaak met al die ‘veiligheids”-regulasies oor watter en hoeveelheid bande gebruik moet/mag word; die brandstof-inname regulasie ens. ens. ens. Daar is omtrent niks meer opwindend om ‘n F1-ren te kyk nie – dit is amper ‘n uitgemaakte saak dat wie in posisie no. 1 kwalifiseer, ook gaan wen – behalwe as daar iets soos in die 2016 Spanish F1 gebeur … Vark Rosberg se ego is in elk geval te groot.

anni ·

As ek mag, sal ek graag n versoek wil rig. Hoekom is daar geen kommentaar oor die motor fietse nie. Huidiglik is die motor fiets renjaar in die motor3 afdeling wat eerste in die afdeling is n Suid Afrikaner. As ek ook mag noem twee race’s terug was hy gepenaliseer op iets wat sy span foutiewelik verkeerd gedoen het. En daar voor moes hy van sy possisie op die grid in die 2de weg spring af skuif na die 35ste possisie. Nog steeds het hy deur gekom en die race gewen. Dit was ook die eerste keer in 30 jaar wat die Suid Afrikaanse volkslied in die GP races gespeel is. Kan ons as Suid Afrikaners vir hom sê welgedaan Brad Binder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.