May oorleef weer wantroue-mosie

Brittanje se eerste minister, Theresa May, praat in die Laerhuis in Londen (16 Januarie 2019). Foto: House of Commons/PA via AP

Theresa May, die Britse premier, het Woensdagaand ʼn mosie van wantroue in die Laerhuis in Londen oorleef in ʼn naelskraapse oorwinning met slegs 23 stemme.

Altesaam 325 wetgewers het teen die mosie van wantroue gestem en 302 ten gunste daarvan. Die mosie van wantroue het gekom ná May se vernederende nederlaag Dinsdag toe wetgewers teen haar Brexit-ooreenkoms gestem het.

Gewoonlik sal verwag word dat ʼn Britse leier bedank of van haar amp onthef word nadat die oorgrote meerderheid van wetgewers – 432 teenoor 202 – teen so ʼn belangrike stuk wetgewing van haar regering gestem het. Maar die huidige politieke tye in Brittanje is alles behalwe normaal.

Brexit is tans besig om die Britse samelewing en politieke klasse uitmekaar te dryf – aan die een kant mense wat deel van die Europese Unie wil bly en aan die ander kant dié wat dit wil verlaat – en nie een van die twee sterk genoeg om die ander te oorwin nie.

“Ek dink dit is verstommend dat [May] steeds voortgaan as eerste minister,” sê Jonathan Tonge, ʼn professor in politiek aan die Universiteit van Liverpool. “Nie net oor die omvang van haar nederlaag nie, maar ook omdat sy aan ons gesê het dit is ‘die beste en enigste ooreenkoms’. So gevolglik sal enige ander roete wat sy nou volg, ʼn minderwaardige roete wees.”

Tim Bale, ʼn professor in politiek aan die Queen Mary University of London, sê May bly steeds staande omdat niemand anders in haar party onder die Brexit-wolk die leisels by haar wil oorneem nie. “Wie anders is daar? Wie wil hierdie rol oorneem?” het Bale gesê. “Geen geharde Brexit-voorstander wil dit doen nie, want hulle weet, in hul hart, dit kan nie gedoen word nie en hulle wil nie daarvoor blameer word nie. En enigiemand sal uit ʼn sagte Brexit-perspektief moet kom en dit sal lei tot ʼn skeiding in die party.”

May moet nou Maandag terugkeer na die parlement om ʼn soort “Plan B” aan wetgewers voor te lê oor Brittanje se onttrekking aan die EU. Tog is daar steeds diep onenigheid oor hoe en of Brittanje die EU moet verlaat.

In Brussel het Europese diplomate gesê die onus rus op Britse wetgewers om met ʼn voorstel vorendag te kom wat ʼn meerderheid in Westminster kan wen sodat daar ʼn grondslag kan wees vir voortgesette gesprekke tussen die twee partye in Brussel. Europese leiers het op 29 Maart hul ongeduld – en groeiende vrees – uitgespreek dat Brittanje op pad na die Brexit-afgrond is sonder dat daar enige vangnette in plek is.

May het in ʼn kort verklaring buite 10 Downing Street gesê sy het begrip daarvoor dat mense die gebeure in die parlement die afgelope twee dae as “onrusbarend” ervaar.

“Nou dat LP’s dit duidelik gemaak het wat hulle nié wil hê nie, moet ons almal konstruktief saamwerk om uiteen te sit wat die parlement wil hê.” Sy het bygevoeg sy het die leiers van al die partye genooi om met haar te vergader sodat hulle koppe oor die ooreenkoms kan bymekaar sit.

Jeremy Corbyn, die opposisieleier wat die mosie van wantroue ingestel het, het tot dusver haar uitnodiging geweier, het May gesê.

Arbeidspartyleiers dring daarop aan May moet eers ʼn “geen ooreenkoms Brexit” uitskakel wat hulle meen amok onder Britse werkers sal veroorsaak. “Voor enige positiewe gesprekke kan plaasvind oor die pad vorentoe, moet die regering eers, duidelik en vir altyd, die moontlikheid van die katastrofe van ʼn Brexit sonder enige ooreenkoms en die chaos wat sal volg van die tafel haal,” het Corbyn gesê.

Leiers van die Scottish National Party het vandeesweek met May vergader, maar sê die vermyding van ʼn Brexit sonder ʼn ooreenkoms, uitstel van die sperdatum om die EU te verlaat en oorweging van ʼn tweede Brexit-referendum is alles opsies wat oorweeg en bespreek moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.