May soek hulp vir meerderheid

Theresa May, Brittanje se premier en leier van die Konserwatiewe Party, en haar man verlaat ʼn kiesstasie nadat hulle hul kruisies getrek het in die verkiesing. Foto: Xinhua/Tim Ireland

Theresa May, premier van Brittanje, se Konserwatiewe Party wil ʼn ooreenkoms met Noord-Ierland se Demokratiese Unioniste Party (DUP) aangaan om ʼn meerderheid in die parlement te kry.

Dit volg nadat May se party sy meerderheid verloor ná Donderdag se verkiesing. May het gehoop die vervroegde verkiesing sou haar hand versterk rakende die onderhandelinge in Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie.

May moet nou toestemming van koningin Elizabeth II kry om die regering te vorm. Die Konserwatiewe Party wil op DUP staatmaak om die 326 setels te kry wat nodig is om ’n meerderheid in die parlement te hê.

Pierre Moscovici, kommissaris by die EU, het intussen gesê May het haar “weddenskap verloor” met die vervroegde verkiesing. Onderhandelinge tussen Brittanje en EU oor Brexit moes op 19 Junie begin, maar die uitslag van die verkiesing kan daartoe lei dat dit vertraag word.

Jeremy Corbyn, leier van die Britse Arbeidersparty, het intussen gesê May moet bedank omdat sy stemme en steun van kiesers verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico K ·

Ek dink die Britte het besef dat hul ekonomies sal verloor as hulle die EU verlaat. Dit maak net sin om eerder aan ‘n groter groep te behoort as om hier op jou eie klein hopie te sit.

Johann Marx ·

Miskien verstaan ek dit ook nog nie heeltemal nie, Nico K, maar…….dis beter om op jou eie klein hopie te sit as om deel te wees van ‘n groep wat jou net heeltyd boelie. Dis groot pret as jy die boelie in die groep is…..maar vir die kleiner outjies is dit beslis nie. Deur die verloop van die geskiedenis het die konserwatieses in amper elke land in die wêreld “verloor” teen die liberalis en verligtes………..net om gouer as gou by die punt te kom waar dieselfde liberalis en verligtes moes erken dat die konserwatiewes reg was. Hoekom die wêreld nie daardie les leer nie….is vir my so onduidelik soos die storie oor die toring van Babel…

zahn ·

Daar was maar net een Maggie Thatcher. Hierdie antie gaan nie tol nie. Sy probeer te hard, sy het dit net nie in haar nie. Na Maggie Thatcher was daar eintlik nog net een Britse Premier wat iets beteken het, Tony Blair. John Major was te vlou, en die span na hom nog swakker.

Koos Roets ·

Die wiel draai. Ek voel sokkerbôl vir daardie eiland-nasie wat my Boerevolk probeer uitwis het. Karma Ist Ein Weibchen!

Fanie ·

Koos, kyk deur die voorruit, nie die truspieël. Ons visie oor die toekoms moet sterker wees as ons geheue oor die verlede. As almal in die wêreld hul griewe vertroetel sal niemand weer veilig wees nie. Daardie geslag Imperiale Britte is lankal dood.

anton ·

Stem saam met jou Koos!!!
Hulle het steeds vandag nie tyd vir ons nie en hulle het gehelp dat die anc die land oorneem!!!

Oom Klasie ·

Jy moet weet waar jy vandaan kom om vorentoe te gaan.Jou geskiedenis is deel van jou erfdom.Geskiednis kan nooit uitgewis word nie.Vandag is die geskiedenis van more.More is die begin van die geskiedenis van die dag daarna.

Gert ·

Die beste stap vir die Britte is om die EU te verlaat. Om deur ander lande voorgeskryf te word hoe om jou eie land te regeer is iets wat ons hier in ons land al beleef het. Globalisering gaan net nog erger word en die nasies verloor hul identiteit op die manier. Terrorisme vier hoogety want almal se grense is oop vir assiel soekers wat slegte elemente bevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.